My weë is hoër as julle weë

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Niks in die lewe gebeur sommer maar net nie. Met alles is daar ‘n doel, maar ons as mens sien nie altyd die doel nie. Gaan kyk ‘n bietjie terug in jou eie lewe, liewe leser en jy sal die Hand van God duidelik sien! Daar is nie iets soos toevallig nie, net God gevallig!

Die HERE sê deur die profeet Jesaja in Jesaja 55:9 vir ons “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.” Paulus skryf aan die Korintiërs in 1 Korintiërs 13:12 “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” Ons weet nie altyd waarom die dinge met ons gebeur wat met ons gebeur nie. Al wat ons kan doen is om die HERE te vertrou dat Hy weet wat Hy doen, selfs al lyk die situasie vir ons hoe hopeloos.

Ek het die naweek die fliek “Messages from Heaven” gekyk. Die van julle wat dit nog nie gesien het nie, kan ek net aanraai om dit te gaan kyk. Die verhaal gaan oor ‘n tien jarige dogtertjie van Dallas, Texas in Amerika. Sy het ‘n ingewande siekte ontwikkel waar haar dermkanaal opgehou werk het en haar liggaam nie meer in staat was om kos te verteer nie. Dis ‘n ongeneesbare siekte met geen hoop op herstel nie. Al wat die dokters kan doen is om die pasiënt se leiding te vergemaklik.

Haar ouers het gehoor van ‘n dokter in Boston, Amerika wat werk met hierdie gevalle en as daar hoop op herstel was, dan sou hy die man wees wat dit kon doen. Vir die van julle wat nie weet nie, die afstand tussen Boston en Dallas is 2900km. Dis dubbel die afstand tussen Kaapstad en Johannesburg, maar dit het hulle nie gestop nie. Hierdie dokter het maar net bevestig wat die familie reeds geweet het en dit is dat daar geen genesing moontlik is nie.

Intussen het die ma van die dogtertjie moed opgegee; opgehou kerk toe gaan en opgehou bid. Sy kon nie verstaan waarom hierdie dinge met haar dogter moes gebeur nie. Sy het vir die HERE gevra of Hy daar is en of Hy na haar luister, maar daar was geen antwoord nie. Sommige mense in haar kerk het gesê dis omdat sy of haar man gesondig het, maar ons verstaan nie God se weë nie en dis nie altyd sonde wat maak dat ons lei nie.

Gedurende een van die baie besoeke na die Boston Hospitaal wat elke ses weke gedoen moes word, het die dogtertjie ‘n bed langs ‘n ander dogtertjie van dieselfde ouderdom gekry. Laasgenoemde het kanker onderlêde gehad. Die dogtertjie met die kanker vra toe of die ander een nie bang is om dood te gaan nie. Sy antwoord toe nee, want die HERE sal vir haar sorg. Sy gee toe haar hangertjie met ‘n goue kruisie op vir die een met die kanker en sê dat die kruis haar sal beskerm. Die pa van die dogtertjie met die kanker was nie baie gelukkig oor die geskenk nie, want hulle was nie gelowige mense nie.

Terug by die huis het haar sussie eendag vir haar gevra of sy boom wil gaan klim. Sy wou eers nie, maar die oudste sussie het aangehou en so het hulle in ‘n ou droë boom op hulle erf wat hol was binne in geklim. Die tak wat hulle op gesit het, het begin meegee en sy het kop eerste binne in die hol boom ingeval. Die afstand wat sy geval het was 9 meter.

Redding personeel het haar uit die boom gehaal en hospitaal toe gevlieg. Die dokter wat haar ondersoek het, het 25 jaar ondervinding gehad, maar selfs hy het agterna vir die ouers gesê dat hy nog nooit in al die jare iets soos dit gesien het nie. Sy het kop eerste binne in die boom geval. Sy was bewusteloos gewees, maar sy het geen beserings opgedoen nie! Geen skedel beserings nie, geen rugbeserings nie en geen skraap of kneus wonde nie! Dis asof die insident nooit gebeur het nie! Die maag siekte wat sy gehad het voor sy in die boom ingeval het, was ook skielik genees!

Agterna het sy gesê dat sy na die val wakker geword het, maar dat sy buite haar liggaam was. Sy kon haarself sien in die boom lê. Die volgende oomblik was sy in ‘n pragtige tuin en daarna op die wolke, waar sy vir Jesus ontmoet het. Sy het Hom gevra of sy kan bly, want sy het so veilig gevoel. Jesus sê toe dat daar nog dinge is wat Hy wil hê sy moet vir Hom op aarde doen en daarom moet sy teruggaan, maar as sy wakker word, dan gaan sy heeltemal genees wees.

‘n Paar Sondae later het haar ma in hulle kerk van die voorval getuig. Na die getuienis het ‘n man en ‘n vrou opgestaan en gesê dat hulle die getuienis nie glo nie en dat hulle net sensasie soek, maar ‘n vreemdeling in die gehoor het opgestaan en gesê dat hy hulle glo. Dit was die pa van die dogtertjie wat kanker gehad het.

Hy sê toe dat sy dogter kort na haar hospitaal besoek oorlede is aan die kanker, maar die vrede wat sy gehad het en het hy nog nooit voorheen in sy dogter gesien nie. Hy was nog nooit ‘n gelowige man nie, maar die vrede wat sy dogter het had het en die feit dat sy nie meer bang vir die dood was nie, het hom laat wonder en dis waarom hy al die pad van Boston af gekom het na Dallas toe hy hoor van die diens. Hy wil net vir haar bedank vir die verskil wat sy in sy dogter se lewe gemaak het voor haar dood!

Sien julle hoe die HERE werk, liewe kinders van God! Daardie arme dogtertjie moes ‘n “ongeneeslike” siekte kry, want dit was die enigste manier hoe die HERE twee ongelowige mense se siele betyds kon red! Dis waarom ek in die begin gesê het: ons verstaan nie altyd nie, maar daar is ‘n doel, selfs al sien ons dit nie raak nie! Vertrou die HERE! Hy weet wat Hy doen, selfs al weet ons nie altyd nie.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 249 times, 1 visits today)