Een Honderdste van ‘n sekonde

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie mense hou daarvan om te dink dat hulle tyd gaan hê om gou alles met Jesus reg te maak voor die wegraping gaan plaasvind…

Hierdie siening is verkeerd en ons sien dit in die Bybel in 1 Korintiërs 15: 52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink”. Volgens wetenskaplike navorsing duur ‘n oogknip een honderdste van ‘n sekonde. Dis hoe vinnig die wegraping gaan gebeur en dan oor gaan wees vir die wat gaan agterbly.

Die woord vir die wegraping in die Griekse vertaling van die Bybel is “harpazo” (αρπάζο) en in Grieks beteken dit om “op te ruk (met geweld)”. Dis presies hoe die wegraping gaan plaasvind: een oomblik gaan ons nog op aarde wees en die volgende oomblik in die wolke met ‘n verheerlikte liggaam.

Die Bybel verduidelik vir ons presies hoe die wegraping gaan gebeur; Jesus maak geen geheim daarvan in Sy Woord nie. In 1 Tessalonisense 4:16-17 verduidelik Paulus dit vir ons: eers gaan Jesus self vanuit die Hemel neerdaal. Let op dat Hy nie Sy voete op die aarde gaan sit nie, maar slegs gaan neerdaal tot in die wolke. Dan gaan Hy ons roep: “Kom op hierheen!” en dan gaan die basuin blaas!

Ek heg vir julle die geluid aan wat Jesus vir iemand in ‘n droom laat hoor het. Hierdie persoon is ‘n musikant en hy het dit wat hy gehoor het op sy klawerbord gaan namaak. Die note wat gebruik word, is ‘n D en ‘n C noot een oktaaf hoër. Die van julle wat musiek agtergrond het, sal weet dat daar sewe note tussen in is van die D noot na die C noot. Die getal sewe is natuurlik God se perfekte getal. Ek kan myself dus indink dat hierdie geluid die regte een moet wees, maar ons sal eers op daardie wonderlike dag van ons vertrek uitvind of dit reg was of nie.

Daardie basuin/trompet geluid gaan oorverdowend wees sodat selfs die wat dood is dit sal kan hoor! Maar net die wat in Christus gesterf het en ons wat gered is en glo sal dit hoor. Die res van die wêreld sal onbewus wees dat enige iets gebeur.

Volgende gaan almal hulle verheerlikte liggame kry: die wat reeds gesterf in het Christus as ook ons wat nog aan die lewe is. Daarna gaan die wat reeds gesterf het eerste geneem word, gevolg deur ons wat nog lewe.

Alles wat ek hierbo beskryf het, gaan in die tydbestek van een honderdste van ‘n sekonde plaasvind! Tyd vir ons sal moet stilstaan, want dis die enigste manier hoe dit wat beskryf word sal kan plaasvind in so ‘n kort tydjie. Vir die wat nie gered is nie, sal tyd normaal aangaan en daarom sal hulle nie besef wat dit is wat gebeur het voor dit nie te laat is nie.

Daar gaan letterlik geen tyd wees om reg te maak vir die wat gaan agterbly nie: geen wekker en ook geen app wat jy op jou foon gaan kan laai wat jou tien minute voor die tyd gaan waarsku om gereed te wees nie. Jy gaan of reg wees of jy gaan nie, en dis al wat dit gaan wees; geen onderhandeling nie.

Volg ‘n heilige leefstyl; wees lief vir jou naaste; doen goed aan almal om jou, ook die wat jy haat; bid vir vergifnis van jou sonde so gereeld as wat jy kan; vergewe die wat teen jou oortree net soos God jou ook jou eie oortredinge vergewe; laat die Gees van die HERE deur jou vloei. Julle weet, dis al wat ons werklik kan doen om gereed te wees.

Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!

 

(Visited 435 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .

One Comment

  1. Baie dankie vir hierdie boodskap vanoggend!
    Mag die Heilige Gees ons sonder ophou herinner hieraan wanneer ons voel ons greep verslap . . . in JESUS NAAM!
    Blessings vanuit PTA

Comments are closed.