Hou vas aan die kleed van Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Jesus weet maar net te goed dat julle bang is vir wat besig is om in die wêreld te gebeur, maar vandag wil Jesus vir jou sê dat jy nie moet moed opgee nie!

Hou vas aan die beloftes; ons tyd is min; alles is besig om in plek te val. Laat die wêreld dink dat hulle oorwin het; hulle het nie. Hulle is besig om iets in hierdie wêreld vry te laat wat hulle geen beheer oor gaan hê nie, maar hulle is blind en sien nie wat dit is wat hulle besig is om te doen nie.

Onthou; Jesus het klaar oorwin. Satan is oorwin; hy weet dit net nie. Laat hulle maar spot en juig oor hulle vals oorwinning. Daardie spreekwoord dat die wat laaste lag altyd die lekkerste lag, gaan waar word!

Onthou Jesus se woorde in Openbaring 2:25-26 [25] Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. [26] En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.” Hierdie is groot woorde! God is nie ‘n mens wat kan lieg nie. Hou daarom vas aan die beloftes! Die Kroon van Oorwinnaars wag vir jou.

Ons is in die laaste dae en hierdie is die laaste oomblikke voor die wegraping. Ons sien dit in alles wat nou besig is om te gebeur. Mense se vryheid van keuse word stukkie vir stukkie van hulle weggevat en hulle sien dit nie raak nie. Oral is daar misleiding en leuens. Niks wat ons meer hoor is die waarheid nie, want alles gaan oor persoonlike gewin, met ander woorde, want kan die een wat die storie versprei daaruit kry. Die naasteliefde wat daar was, bestaan nie meer nie en so ook nie om iets te doen ten goede van die mensdom nie. Hoe kan ons dan onderskei? Deur aan Jesus se kleed vas te hou en deur die Heilige Gees; die Gees van die Waarheid! Dit is die enigste manier.

Daarom liewe lesers, los dit wat in die wêreld aangaan en konsentreer op God! Moenie ontsteld word oor dit wat julle sien gebeur nie. Niks gebeur sommer maar net nie; alles is deel van God se plan. Nie eers satan kan doen wat hy wil nie, maar net dit wat God hom toelaat om te doen en God laat toe dat hierdie dinge nou oor die wêreld kom, sodat die skape van die skape geskei kan word. Die skape is klaar van die bokke geskei, nou is dit die tyd dat die wat werklik glo met alles wat hulle het, met die Heilige Gees in hulle, van die wat net daar is om saam te ry. Ons sien dit nou gebeur.

Net deur weg te kruip in die sterk toring wat Jesus Christus is met die Heilige Gees aan ons kant, gaan ons die waarheid weet en so die misleiding onderskei. Daar is geen ander manier nie.

Ek gaan afsluit met Paulus se woorde aan die Hebreërs: “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.” (Hebreërs 12:1)

Hou aan, hou uit, bly in Jesus met die Heilige Gees as jou metgesel! Die wenstreep is in sig! Moenie nou ophou nie!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk