Ek sal nie spaar nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het teruggehou om hierdie boodskap te bring, maar ek het bevestiging gekry dat dit inderdaad die boodskap is wat gehoor moet word.

Ons almal weet hoe naby Jesus se koms is. Ons mag dalk nie weet presies wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons weet dat dit naby is. Dis is ook waar dat ons al lank daaroor gewaarsku word en baie het moed opgegee om langer te wag. Dis jammer dat dit so moet wees, maar vir die van julle wat nog getrou die Woord van God in julle harte bewaar, moet weet dat julle beloning vir julle wag.

Hierdie boodskap is nie vir julle nie. Hierdie boodskap is vir die wat louwarm is. Die wat nog so ‘n bietjie sluimer en slaap!

Die Gees het die afgelope tyd verskeie boodskappe vir ons gegee oor naasteliefde, waaksaamheid, reinheid en heiligmaking. Dis elke Kind van God se plig om reinheid en heiligmaking na te streef, veral in hierdie laaste oomblikke.

So wat presies is heiligmaking? Heiligmaking is om jou te onderwerp aan die gesag van God en Hom eerste in jou lewe te stel. Dit beteken dat jy jou moet afsonder van die vuilheid en die korrupsie van die wêreld. Dit beteken dat jy jou moet ontneem van leuens vertel en om jou mede mens te verkul en laastens beteken dit ook dat jy jou moet onthou van die hoerery omdat dit so algemeen deesdae is en vernederend is as jy uitgevang word.

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” (1 Tessalonisense 4:3-5)

Ek weet maar net te goed hoe lank ‘n mens kan sukkel om van sekere sonde in jou lewe ontslae te raak. Ek het al baie voor God gehuil oor die sonde wat ek doen en net nie kan oorwin nie. Ek het al vir God gevra waarom dit toegelaat word, maar nooit ‘n antwoord gekry nie. Dis waarom ek medelye het met mense wat vasgevang is in hierdie strikke van satan, maar ek wil ook vir jou sê dat daar genade vir jou is. Die poging wat jy aanwend om skoon te kom en te bly gaan nie ongesiens by Jesus verby nie. Wees gerus dat jou poging meer tel as wat jy dink.

Ongelukkig is daar van julle wat graag beide paaie wil loop deur God te dien, maar ook deel wil wees van die plesier wat die wêreld aanbied. Julle is die wat op dun ys is… Vir julle wil ek hierdie woorde van die HERE bring.

“Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom; en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is.” (Esegiël 7:3-4)

Liewe Kind van God; luister nou en luister mooi! As jy nie heiligmaking deel van jou lewe gaan maak nie, dan gaan jy agterbly in die wegraping. God gaan al die gruwels wat Hy vir hierdie wêreld beplan omdat die wêreld Hom nie wil erken as Skepper nie op hulle laat neerkom en jy gaan deel wees daarvan en nie gespaar bly nie.

Maar die tyd is nog nie daar nie en jy kan nog steeds regmaak as jy bereid is om jou hardnekkigheid te laat staan. Hou daarom op om langer uit te stel en maak nou reg terwyl jy nog die tyd het.

Vir die res van julle wil ek sê dat julle moet vashou wat julle het, want die tyd is min. Hou vas en moenie vir satan die geringste van kanse gee nie. Laat jou naasteliefde skyn, want dis hoe die wat agter gaan bly ons gaan onthou. Moet ook nie bekommerd wees oor die klein krakies in jou lewe nie. Ja, ons wil almal baie graag perfek vir Jesus wees, maar as jy perfek was, waardeur sou God se lig in jou uit skyn na die donker wêreld daar buite? Hoe sal die wat in die donker is dan weet om na jou toe te kom en hoe gaan hulle weet dat jy anders is? Verstaan julle waarom daardie krakies daar moet wees?

Ek gaan afsluit met Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”  (2 Korintiërs 7:1)

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 147 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .