Hierdie vraag het in ons WatsApp groep opgekom en vandag gaan ons na die antwoord kyk.
Wat is die eerste gedagte wat by jou opkom as daar van jou naaste gepraat word. Kom, wees nou eerlik! Dis daardie vuil bos slaper met die uit tande wat jy ‘n 100m ver kan ruik, né? Net die gedagte is genoeg om enige iemand af te sit.
Alhoewel almal op hierdie aarde ons naaste is, word daar nêrens gesê dat jy nie voorkeure mag hê nie. Jesus het vir ons die vryheid van keuse gegee sodat ons self kan besluit wie jy wil reken as jou naaste. Jesus verwag nie van jou om enige iets te doen wat jou ongemaklik laat voel nie.
Kolossense 3:12-13 stel dit sekerlik die beste: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
Jesus het vir ons sulke goeie voorbeelde gestel toe Hy op aarde was. Die maklikste gaan wees om hierdie voorbeelde te volg. Jesus het met almal gepraat en Hy was vriendelik met almal, tot met die wat die Fariseërs beskou het as sondige mense wat onredbaar is! Volg daardie voorbeeld wat vir jou gestel is.
Behandel almal soos jy graag behandel wil word en tref geen onderskeid nie. Help die wat jy kan, maar gebruik die leiding van die Gees om te onderskei. Onthou dat God ‘n blymoedige gewer lief het.
Ons almal ken deesdae die lewe en ons weet ook hoeveel ongepoetste skelms daarbuite is. Dis waarom ek selde geld vir mense gee. Ek sal kos koop vir iemand wat dit nodig het en ek net dit ook al baie gedoen, maar ek sorg dat my linker hand nie weet wat my regter hand doen nie. Die oomblik wat jy jou goeie dade begin verkondig, dan het jy jou beloning op aarde klaar weg.
Jesus sê in Mattheus 25:37-40 “Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Doen dit wat jy vir jou naaste kan doen met blydskap in jou hart. Moenie iets terug verwag nie. Help die wat jy kan en ontferm jou oor die wat jy nie kan help nie. Dit wat jy vir die om jou doen, doen jy vir Jesus.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!