Gawe van Onderskeiding

Ek wil vandag so ‘n bietjie met julle gesels oor die Gawe van Onderskeiding soos dit opgeteken is in 1 Korintiërs 12.

In Korintiërs 12 beskryf Paulus die verskillende Gawes van die Gees. Die Gawes van die Gees is die liefdes geskenke wat ons deur die Gees van Jesus af ontvang. Die gawes wat jy ontvang gaan groot en deels afhang van die werk wat jy vir Jesus gaan doen hier op aarde. Kom ons wees eerlik: Jesus gaan nie vir jou ‘n tang gee as Hy wil hê dat jy ‘n spyker moet gaan inkap nie!

Die Gawes wat jy gaan ontvang gaan ook afhang van hoe jy die Gees gaan toe laat om te werk deur jou. Julle moet verstaan dat die Gees van God in ware Heer is en dat Hy NOOIT enige iets sal doen wat jou ongemaklik sal laat voel nie.

Julle moet ook onthou dat anders as die Vrugte van die Gees, die Gawes van die Gees nie saam met ons Hemel toe gaan nie. Dis omdat jy die Gawes van die Gees nie in die Hemel gaan nodig hê nie. Om te kan profeteer gaan geen doel hê in die Hemel nie en so ook nie om siekes te kan gesond maak nie.

Met dit in gedagte, word die Gawe van Onderskeiding in 1 Korintiërs 12:10 genoem. Die beste manier vir my om die Gawe van Onderskeiding te verstaan is vir my om vir julle hierdie kort getuienis te bring wat ek op geleentheid van gelees het. Daar was hierdie egpaar wat hulle baba seuntjie in die kerk ingebring het om ingeseën te word toe die kerkdiens tot stilstand geroep is. Van die kansel af het die leraar vir die egpaar gesê dat hulle seuntjie eendag selfmoord gaan pleeg! Die egpaar het onmiddellik onderskei dat hierdie nie ‘n woord van die HERE af was nie en dat daar ‘n ‘n waarsêers gees in die kerk was. Hulle het omgedraai en uitgestap en nooit weer na daardie kerk teruggekeer nie. Dit is die Gawe van Onderskeiding daardie! Om met sekerheid te kan onderskei wanneer ‘n woord van die HERE kom al dan nie. Die Gees van die HERE rus jou toe wat jy nodig het in daardie oomblik sodat jy kan onderskei en die slaggat wat satan vir jou stel kan vermy.

Kom ons veronderstel dat daardie egpaar nie die Gawe van Onderskeiding gehad het nie. Kan julle julle voorstel hoe die gedagte dat hulle seun eendag selfmoord gaan pleeg in hulle koppe sou rond gerol het soos ‘n albaster? Dit sou hulle tot waansin gedryf het soos hulle probeer het om daardie lot te voorkom. Dis nie die lewe wat Jesus vir jou wil hê daardie nie, want as so iets eers besit van jou neem, dan kos dit ‘n baie groot geveg om dit weer uit jou lewe te kry.

Is Jesus nie wonderlik om ons vooraf op hierdie manier te waarsku nie? Ek is gaande daaroor as Jesus met sulke verassings kom en dit uit ‘n rigting uit wat jy glad nie verwag nie! Prys die Naam van Jesus!

As jy ‘n woord gegee word om te spreek en jy spreek dit, sal jy agterkom dat jy met outoriteit praat en dat niemand met jou daaroor stry nie. Ek was al daar ook en ek het baie groot geskrik toe dit gebeur het. Ek was die jongste in die vertrek en daar was mense wat baie ouer was as ek, tog het almal geluister en niemand het enige iets verder gesê nie! Ek is seker daarvan dat baie van julle soortgelyke stories sal kan vertel as ek sou vra!

Oor die jare het baie mense my al gevra waarom die boodskap wat ek bring so anders is as wat hulle in hulle kerke hoor. Ek kan daardie vraag nie antwoord nie, want ek weet nie wat leraars deesdae in hulle kerk oor praat nie. Ek skryf soos die Gees my lei en as jy wonder daaroor, vra gerus die Gees of die boodskap wat jy lees van God is of nie. Jy sal daardie oortuiging kry en ek waarborg dit vandag vir jou!

Vertrou die leiding van die Gees, want die Gees sal jou NOOIT verkeerd lei nie en dit is ‘n belofte! Prys die Naam van Jesus!

Mag die Vader hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 1 343 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .