Die Gees wys vir my daar ongeloof onder julle is en dat daar sommige is wat wonder of die Woord van God waar gaan word…
Voordat ons verder gaan, gaan ons eers kyk wat sê die Woord van God in Jeremia 34:1-5.
“[1] Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het—toe Nebukadnésar, die koning van Babel, en sy hele leër en al die koninkryke van die land van sy heerskappy en al die volke teen Jerusalem en al die stede daarvan oorlog gevoer het— [2] so sê die HERE, die God van Israel: Gaan en spreek met Sedekía, die koning van Juda, en sê vir hom: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand. [3] En jy sal uit sy hand nie ontvlug nie, maar sekerlik gevang en in sy hand gegee word; en oog in oog sal jy die koning van Babel sien, en mond tot mond sal hy met jou spreek; en jy sal in Babel kom. [4] Maar luister na die woord van die HERE, o Sedekía, koning van Juda! So sê die HERE aangaande jou: Jy sal deur die swaard nie sterwe nie. [5] Jy sal in vrede sterwe, en net so ‘n wierookbrand as vir jou vaders, die vorige konings wat voor jou gewees het, sal hulle vir jou aansteek en jou beklaag met: Ag, heer! Want Ék het die woord gespreek, spreek die HERE.” (Jeremia 34:1-5)
Alles wat hier staan het waar geword. Nebukadneser het Jerusalem ingeval en met vuur verbrand en Koning Sedekía was gespaar net soos die HERE gesê het sou gebeur. Die Israeliete is weggevoer na Babel waar hulle moes bly vir 70 jaar lank.
Ons as mense is mos snaakse goed, want ons glo nie voor ons nie iets sien gebeur nie! Teen daardie tyd is dit altyd hopeloos te laat om enige iets daaraan te verander. Dis waarom dit so belangrik dat ons van hierdie ongeloof ontslae moet raak, want die Bruid van Jesus moet haar nou begin gereed maak om saam met haar Bruidegom te gaan. Die Woord van God sê vir ons herhaaldelik in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en in 1 Tessalonisense 1:10 dat die oordeel van God ons nie toekom nie. Dis waarom ons wat glo uit die rampgebied verwyder gaan word voor die tyd.
Maar Jesus is genadig; ook met die wat sukkel om te glo. Dis waarom Hy gaan wag tot die heel laaste moontlike oomblik voor Hy Sy Bruid gaan kom haal. Moet dus nie moed verloor as jy sien wat om jou gebeur nie. Glo jy net en moenie moed verloor nie, selfs al lyk dinge hoe erg.
Hierdie ontvlugting is net vir die ware Kinders van God wat glo dat Sy Woord waar is en gaan gebeur soos dit voorspel is. Vir die wat nie glo nie gaan die werklikheid in die gesig moet staar, net soos Koning Sedekía dit moes doen.
Jesus wil niemand agterlaat nie, maar Hy is ook ‘n ware Heer en daarom los hy daardie keuse vir elkeen van ons om te maak. Jy kan vandag kies of jy wil uitvind of die Woord van God waar gaan word of dan nie, maar jy gaan mooi moet kies. Hierdie uitnodigings gaan binnekort ophou en dan gaan jy die waarheid in die gesig moet staar!
Jesus staan met Sy arms oop en Hy roep jou vandag. Kom na My toe, reinig jouself en sê nee vir die sonde. Dan sal jy ook binnekort kan wees waar Ek is! Om nee te sê vir satan se leë beloftes is nie onmoontlik nie, want Jesus sal jou help daarmee, maar jy gaan die eerste stap moet neem.
Kom ons bid saam.
Vader Jesus ons is sondaars en daarom roep ons uit; wees ons genadig! Ek het oortree teen U, HERE en daarom vra ek dat U my oortredinge sal vergewe en my naam sal skrywe in die Boek van die Lewe. Ek het ‘n begeerte om by U te kan wees en U Kind te kan wees en daarom gee en nou my lewe oor in U hande. Ek wil u kind wees van nou af. Was my skoon in die Bloed van die Lam, my Vader. Dankie, Jesus dat U gesterf het vir ons en dankie vir hierdie verlossing wat U vir ons daargestel het. In U Naam bid ek dit. AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap aan u hart seën!
