Meer en meer geloof

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Hierdie is ‘n onderwerp waaroor ek net nie genoeg kan praat nie. Die van julle wat al lank hier is, sal dit kan bevestig.

Een van die moeilikste dinge vir ‘n Kind van God om te leer is hoe om beheer van jou lewe aan God oor te gee. Die rede daarvoor is omdat ons van kleintyd af geleer word om op ons eie voete te staan en nooit van enige iemand afhanklik te wees nie. “Jy is die baas van jou lewe en laat niemand dit van jou wegvat nie.” Klink die woorde bekend? Dis indoktrinasie daardie en om nou op hierdie groot ouderdom anders te wil leer is moeilik!

Ek kan nog onthou toe ek dit moes geleer het. Dit verbaas my hoe geduldig Jesus met elkeen van ons is, want ek moes bankrotskap in die gesig staar voor ek die leisels oorgegee het. Selfs daarna was dit moeilik om nie die leisels terug te vat en weer self aan die stuur te wees nie. Satan versoek jou vreeslik in daardie tyd, maar vandag pluk ek die vrugte van my arbeid! Prys die Naam van Jesus!

Nou met die onluste het ek weereens gesien hoe almal om my uitmekaar val en hoe almal swig onder die vrees. My lewe behoort aan Jesus; Hy is in beheer daarvan en omdat ek dit weet, kan ek ook soos Paulus sê in Romeine 14:8 “Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Prys Sy Naam!

Jesus sê in Mattheus 7:8 dat elkeen wat bid ontvang. As ons dit glo, dan is alles vir ons moontlik. Ek bid elke oggend vir beskerming teen die bose soos Jesus gesê het ons moet toe Hy Sy dissipels geleer bid het en ek kan getuig dat dit werk! Satan het geen mag oor my, my huisgesin of my eiendom nie. Ek weet dat almal van hulle beskerm word; ook die wat nie glo nie, maar hulle weet dit nie.

As Kinders van die Lewende God geniet ons unieke voorregte. As jy glo en jy bid en vra, SAL jy ontvang. As jy jou naaste lief het soos jouself, dan sal jy geseënd wees. Gee beheer van jou lewe oor aan Jesus en kyk ‘n bietjie wat gaan gebeur. Jy gaan ‘n ‘n vryheid geniet wat menslike wysheid gaan oortref en dis ‘n belofte!

Ek wil afsluit met ‘n gedeelte uit ‘n video preek wat iemand op ons Telegram groep gepos het. In die video sê die persoon dat dit darem snaaks is hoe mense die in wetenskaplikes glo, maar nie in God nie. Hulle glo aan ‘n onsigbare virus, maar nie aan ‘n onsigbare God nie. As die wetenskaplikes iets sê, dan glo almal dit en as hulle van plan verander, dan vergewe ons hulle en ons glo hulle nog steeds! Maar ons glo nie aan die beloftes in God se Woord nie; beloftes wat al vir eeue staan en nog nooit verander is of verkeerd bewys is soos wetenskaplikes se beloftes nie.

Liewe lesers, dis tyd dat ons vir Jesus op Sy Woord vat, want Sy Woord was nog nooit verkeerd nie. Hierdie goed wat ons daar buite sien gebeur is net die begin. Dit gaan nog baie erger word en ons is besig om dit te sien. Gryp die HERE nou vas terwyl jy kan. Hou op om die wêreld te vertrou, want die wêreld kan vir jou niks gee behalwe pyn en lyding nie. Jou beste oplossing is om alles wat jy het, jou geliefdes, eiendom, finansies en jou beroep, in die hande van Jesus te sit en Hom daarmee te vertrou.

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk

One Comment

  1. Amen!

    Prys voorwaar die Wonderlikste Naam in die ganse heelal – die Wonderlike Naam – Jesus Christus! Onse Here en ons God! Die Lewende God van Abraham, Isak en Jakob. Daar is géén ander God nie!

Comments are closed.