Ek gesels nou die dag met iemand en die gesprek loop toe uit op Geestelike boodskappe wat op die gewilde platform Watsapp gestuur word.
Hierdie persoon sê toe vir my hoe hy dit haat as iemand lang opstelle skryf, want hy kan net drie sinne lees voor jy so verveeld raak dat hy die boodskap uitvee. Ek het skielik hierdie persoon uit my hart uit jammer gekry, want ek het besef waarom hy en so baie ander net soos hy aan Geestelike Hongersnood ly…
Julle sien, die HERE kan vir ons alles in die lewe op ‘n silwer skinkbord gee, maar as Hy dit sou doen; hoe sal ons dan in die HERE groei? Jesus sê in Mattheus 6:33 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Dit wil sê dat as jy die HERE soek, dan sal alles wat jy wil hê vir jou bygevoeg word. Ek kan nie eers begin om vir julle te sê hoeveel krag ek al geput het uit hierdie opstel lengte watsapp boodskappe nie. Die bestes wat my die meeste geraak het, het in lang boodskappe soos dit gekom.
Natuurlik sal satan sy uiterste beste doen om jou te oortuig dat jy nie die tyd het om te lees nie, want hy weet dat as jy dit moet lees, dan sal hy kragteloos in jou lewe wees! Dis om dieselfde rede dat hy so hard probeer om jou te oortuig om nie heel eerste in die oggende te lees en te bid nie. Hy weet dat as jy eerste tyd maak vir God, dan gaan jy die hele dag geseënd wees. Julle moet onthou dat satan nie dom is nie. Hy ken ons as mense baie goed en hy weet presies hoe om jou te manipuleer.
Mense wat hulle so van die HERE afsny is soos mense wat weier om te eet. Hulle sal ‘n heerlike gebraaide stuk vleis net lek en dan neersit. Nooit sal hulle dit eet nie. Baie gou is hulle maer en ondervoed omdat hulle geen voeding kry nie. Sulke mense word maklik siek, omdat hulle liggame nie die weerstand kan opbou om siektes uit te hou nie.
In ons geestelike lewens gaan dit dieselfde. As jy die Gees van die HERE afsny in jou lewe, raak jy geestelik maer en uitgeteer. Dis vir satan maklik om jou aan te val, want jy kan geen weerstand bied teen die versoekinge nie. Verstaan julle waarom dit so belangrik is om in die wynstok te bly? Maak tyd vir die HERE in jou lewe liewe leser, dan sal die HERE tyd maak om saam met jou te spandeer!
Laat die Gees toe om jou te wys wat liefde is; ware liefde vir jou medemens. Laat die HERE jou in Sy arms toevou in liefde so groot dat jou menslike verstand dit nooit sal kan verstaan nie. Al wat Jesus van jou verlang is ‘n paar minute van jou tyd op ‘n dag. Dit hoef nie eers baie te wees nie; net genoeg om gevoed te word sodat jy kan groei in die Gees.
Prys die Naam van Jesus!