Sonder Geloof

Geloof is die pilaar waarop ons godsdiens rus, want sonder geloof is daar geen hoop nie en sonder hoop geen geloof nie.

Ek weet maar net te goed hoe moeilik dit is om deesdae God se Wil in alles raak te sien. Ek weet dat baie van julle op moedverloor se vlakte sit. Ek weet ook dat baie van julle God blameer daarvoor. Dis presies wat satan wil hê. Hy soek jou op daardie plek waar jy net moed wil opgee en gaan sit, want dan is dit een persoon minder wil teen hom gaan opstaan en so wen hy; letterlik een op ‘n slag!

So val satan jou geloof aan, want hy weet dat dit baie van ons se swakplek is. Hy wys vir jou hoe min jy het en hoe baie ander het en so word jy nog meer kwaad oor die onregverdigheid. Wat jy nie sien nie, is satan se slinkse plan. Hy wys nie vir jou hoeveel seëninge jy het nie. Hy wys nie vir jou hoe God elke dag, tree vir tree saam met jou loop nie. Hy wys ook nie vir jou die beloning wat vir jou wag nie…

Dit gaan op die oomblik baie swaar met baie van ons en baie van ons sien nie ‘n uitkoms nie. Het Jesus dan nie gesê dat ons meer werd is as baie mossies nie? Het Jesus nie gesê dat as Hy vir die voëls van die Hemel en die diere van die veld sorg, Hy vir ons ook sal sorg nie? Hy het nooit gesê dat ons ryk sal wees of oorvloed sal hê nie, maar hy het gesê dat ons nie sal omkom nie! Waarom twyfel jy dan?

Jy sien nie ‘n uitkoms nie, want jy probeer God se weë bepaal. Ons is op die Aarde en God is in die Hemel. Sy weë is baie hoër as ons s’n en daarom sien ons nie die groter prentjie nie. Vir ons om te probeer sin maak uit dit wat nou gebeur is om vir ‘n mier te verduidelik hoe ‘n radio werk.

Ons is in die laaste dae en ons was vooraf gewaarsku dat daar swaar tye gaan kom. Jesus het gesê dat dit gaan wees soos ‘n vrou wat in barensnood is, maar as die baba eers gebore is, dan word die pyn en lyding baie gou vergeet. Hierdie is ‘n moeilike tyd waarin ons is, maar ons kan weet dat God in beheer is en dat Hy presies weet wat Hy doen. Moet daarom nie moed verloor nie, want dan het satan jou presies waar hy hou wil hê.

Jesus het gesê dat baie in hierdie laaste dae die geloof gaan prysgee. Moenie een van hulle wees nie, ek smeek julle, want ek wil nie een van julle verloor nie. Hou dus moed, liewe leser en moenie ophou bid nie! Bid vir genade vir hierdie wêreld en lees Psalm 91 oor en oor!

Mag Jesus julle seën!

(Visited 236 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .