Regdeur die Bybel word daar gepraat van geloof, maar tog is dit iets wat min van ons werklik het…
Ons almal glo in Jesus Christus, want dis tog die basis van ons geloof, maar tog glo ons nie dat Hy in beheer van ons lewens is nie. Hoekom is dit vir ons so moeilik om werklik te glo? Alles begin by die manier hoe ons groot gemaak is. Van kindsbeen af word ons geleer dat jy op niemand kan vertrou nie en dat net jy jou uit situasies kan kry as jy op niemand staatmaak nie. Klink hierdie nie bekend nie?
Ons almal hou daarvan om in beheer van ons lewens te wees. Ons bepaal hoe dinge gedoen gaan word en wanneer. Ons hou daarvan om die stuur van die lewe in ons hande te hê en te dink dat ons in beheer is, maar iemand het eenslag gesê dat beheer ‘n illusie is en dat niemand van ons ooit werklik in beheer is nie.
Jesus het eenslag gesê dat ons nie eers onsself kan langer maak nie. Waarom bekommer ons ons dus oor dit wat ons nie kan verander nie?
Die huidige pandemie het ons net gewys hoe min beheer ons werklik het. Kyk net in wat se gemors sit die wêreld op hierdie oomblik… Ons het so min beheer daaroor dat ons dit nie eers kan voorkom nie, maar regdeur alles het God ons gewys dat Hy nog steeds in beheer is! Prys Sy Naam!
Hoe wil Jesus dan hê moet ek dan glo? As jy op ‘n stoel gaan sit; hoe weet jy die stoel gaan jou gewig kan dra? Dat dit inderdaad sal voldoen aan die doel waarvoor dit gemaak is? Jy glo dat die stoel sal hou, dan nie? Jy glo so daaraan dat jy nie eers die moontlikheid oorweeg dat die stoel dalk dal kan breek nie. Jy gaan sit net en bekommer jou later eers alles wat moontlik kon gebeur het!
Dis wat Jesus wil hê jy moet doen en dis die geloof wat Hy by jou soek. Jy moet so glo dat Jesus sal voorsien dat selfs al probeer jou verstand hoe hard om jou van die teendeel te oortuig, moet jy net glo! Selfs al sit ek in hoe ‘n groot finansiële verknorsing en selfs al weet ek dat daar geen manier vir my is om daaruit te kom nie; glo dat Jesus sal voorsien net soos jy glo dat die stoel waarop jy gaan sit elke slag in staat gaan wees om jou gewig te kan dra.
Verstaan julle?
Nee, dis nie onmoontlik nie! Jy het nie eers nodig om enige iets te doen nie, want Jesus sal al die harde werk doen! As jy daardie bietjie geloof vat en daaraan vashou met alles wat jy het, dan sal Jesus dit seën en vir jou honderdvoudig teruggee wat jy ingesit het. Selfs al lyk ‘n situasie hoe desperaat vir jou; Jesus is daar en Hy sal voorsien! Glo dit met alles wat jy het en kyk wat gebeur!
Prys die Naam van Jesus!