Vandag gaan ons so ‘n bietjie kyk na geloof en wat dit nou presies is.
Ja, ek weet julle weet wat geloof is, maar kom ons kyk wat skryf Paulus oor wat geloof is in Hebreërs 11:1 “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”
Om te sê dat geloof amper iets soos ‘n wens is, gaan nie verkeerd wees nie, maar dis ook baie meer as dit. Die geloof lê beslag op die hele mens: sy verstand, sy hart en sy hande om daardeur ‘n nuwe mens vir die Here te word. Geloof is die fondasie van Christenskap waarop ons bou. Geen mens kan ‘n Christen wees en dan nie glo nie. Dis soos om ‘n huis te bou sonder ‘n fondasie. Dis daardie fondasie, daardie geloof wat jou staande hou as die storms van die lewe op jou afkom soos Jesus vir ons beskryf in Mattheus 27:24-27.
In Hebreërs 11:6 lees ons verder: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag;” Om te glo is dus alles! Daar is geen ek-dink-so nie. Dis alles of niks! Dis hier waar satan een van sy grootste oorwinnings oor ons lewens kry. Ons wil glo, maar ons wil ook twyfel en dis hierdie twyfel, liewe leser wat satan gebruik om jou te laat val! Hy druk sy vingernael in die krakies in en werk die krakie uit totdat dit ‘n skeurtjie maak en later geheel uitmekaar skeur!
Kom ek vertel julle hierdie getuienis: Daar was eendag ‘n Man van God wat die gawe van genesing gehad het. Mense het van ver gekom om voor gebid te word. Hy het siektes van elke denkbare kwaal genees! Eendag bring hulle ‘n vrou in ‘n rolstoel na hom wat al vir baie jare verlam was. Sy wou baie graag weer loop. Skielik het die Man van God getwyfel. Om siekes te genees is een ding, maar hy het nog nooit iemand laat loop nie… Skielik het satan sy opening gesien en vir die Man van God gevra: “Wat gaan jy maak as sy nie loop nie?” Hy het sy ongeloof dadelik afgeskud en geantwoord: “Wat gaan jy maak as sy loop?” Dadelik het satan hom verlaat en die HERE het daardie vrou laat loop!
Dit, liewe leser, is geloof! Om te glo in jou fondasie en jy moet glo dat dit sterk genoeg is om te hou, maak nie saak wat se storm oor jou losbars nie! Dis om ten spyte van wat jou verstand vir jou sê te glo dat die Here in beheer is, maar nie saak wat gebeur nie. Dis om te weet; al gaan dinge hoe sleg, dat daar ‘n is doel en daar ‘n uitkoms gaan wees! Dis om te vra en te weet dat jy gaan ontvang. Miskien nie nou dadelik nie, maar dat dit gaan kom! Dis geloof daardie!
Die Bybel is vol voorbeelde van geloof. Om een spesifieke vers uit te sonder is baie moeilik. Die verhaal van Job is ‘n sprekende voorbeeld, maar ek gaan eerder die volgende twee voorbeelde gebruik. In Markus 14 lees ons die volgende “[13] En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en ‘n man wat ‘n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom, [14] en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?” en in Lukas 19 die volgende “[29] En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur [30] en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle ‘n esels vul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. [31] En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? —moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig.”
In beide gevalle het Jesus se dissipels geen idee gehad of dit wat aan hulle gesê was gaan gebeur nie, maar hulle het geglo! Dit is die tipe geloof wat die Here by ons elkeen soek. Om te glo soos ‘n kind; met alles in jou; sonder enige twyfel!
Geloof is ‘n geskenk van God aan sy kinders. Dis die een ding wat niemand ooit van jou kan wegneem nie! Geloof is ‘n onwrikbare bewys dat u wel ‘n Kind van God is en daarom ‘n erfgenaam van die ewige lewe! Die geloof laat jou in dankbaarheid voor die Here jubel!
Mag die Here hierdie boodskap in almal se harte seën!