Geroepenes van die HERE

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Baie van julle sal seker weet dat om ‘n prediker te wees, ongeag van die kerk waarin jy behoort, ‘n heilige roeping is.

Waarom heilig? Omdat jy die Heilige Woord van die HERE verkondig en as jy die Woord van die HERE bedien, dan is jy op daardie oomblik Heilig voor die HERE! As jy dus hierdie roeping aanvaar, dan rus daar ‘n verpligting op jou om die Wil van die HERE te verkondig, maak nie saak of die boodskap snaaks of vreemd voorkom nie.

Ongelukkig is dit nie wat gebeur nie, want ons predikers van vandag het liefhebbers van mense geword. Hulle bedien wat die mense graag wil hoor, want as die mense ontsteld word dan gaan daar nie geld in die kerk inkom nie. Nou verkondig hulle aan die mense wat hulle graag wil hoor en gebruik hulle kop kennis om hulle redenasies te staaf in plaas daarvan dat hulle luister na die leiding van die Heilige Gees!

Die Logos Woord, met ander woorde God se geskrewe Woord wat in die Bybel opgeteken is, word aan die mense bedien, maar die Rhema Woord word geheel en al geïgnoreer. Baie van julle wat hierdie lees, sal seker geen idee hê van wat die Rhema Woord is nie, daarom gaan ek verduidelik. Die Rhema Woord is die profesieë soos deur die Heilige Gees in die ore van die mens gefluister word. Dis dinge wat nie in die Bybel opgeteken is nie, maar aan die mens deur die Gees van God bekend gemaak word.

Jesus het self in Johannes 16:12-13 vir sy dissipels gesê dat Hy nog baie het om aan hulle mee te deel, maar dat hulle dit nie nou kan dra nie, maar dat Hy die Heilige Gees gaan stuur om aan hulle mee te deel alles wat Hy (die Heilige Gees) gehoor het.

Deur God se Rhema Woord uit te sny en te ignoreer, word die Heilige Gees in beginsel gemuilband. Dit mag nie so wees nie, want God se Logos Woord en Sy Rhema Woord (profesieë) is soos ‘n perd en ‘n ruiter. Die een kan nie sonder die ander nie! Saam vorm dit die perfekte kombinasie wat uitwys, teregwys en weerlê! Hoe kan die een helfte van die Waarheid verkondig word en die ander helfte totaal ignoreer word?

Omdat net die helfte van die waarheid aan die mense verkondig word, het die HERE nou gewone mense van die straat af geroep en toegerus met die Heilige Gees om Sy volk weer op die regte pad te kry. Natuurlik is hierdie mense vir baie opgeleide predikers ‘n groot doring in die vlees, want nou word die dinge waaroor hulle elke Sondag preek deur gewone mense van die straat af met geen aardse opleiding nie, kragtig weerlê!

Hierdie behoort vir baie predikers genoegsame aanduiding te wees dat hulle op die verkeerde pad is. Ongelukkig is dit vir ons predikers makliker om mense te verban en uit te kruit as leuenaars as om na die HERE toe terug te gaan en dinge met Hom reg te maak. Dis makliker om mense elke Sondag met kop kennis en halwe waarhede te verlei as wat dit is om ondersoek te gaan instel en te kyk of daar nie dalk iewers fout is nie.

Hierdie toedrag van sake is uiters ontstellend, maar gelukkig het ek bevestiging van die HERE gekry dat net Sy skape Sy stem ken en dat hulle ‘n ander nie sal volg nie, want hulle ken nie sy stem nie! Prys die HERE!

As jy wat hierdie lees een van daardie predikers is wat skuldig is aan hierdie dinge en die Heilige Gees sal dit aan jou uitwys; onthou dat dit nog nie te laat is om met die HERE reg te maak nie. Die HERE sal nooit iemand wegstoot of verwerp oor die foute wat hy of sy maak nie, want ons is almal mense en ons is almal vaal baar.

Aan die gewone lesers wil ek net dit sê: vertrou op die leiding van die Heilige Gees! As daar iets verkondig word en jy is nie seker nie, vra die HERE om aan jou te openbaar of dit waar is of nie. Pasop vir kop kennis en slim redenasies. Alles kan uit die Bybel uit reg geredeneer word, maar net die Gees van die HERE kan vir jou oortuig wat die waarheid is en wat nie is nie! Pasop dat niemand julle mislei nie.

Prys die Naam van HERE vir hierdie boodskap!

(Visited 217 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .