Om in die geloof te kan groei is daar een vereiste wat ons almal aan moet voldoen en dit is om van die illusie van beheer ontslae te raak.
Kom ons kyk eerstens na die geloof wat ‘n Kind in sy ouers het as ‘n voorbeeld. ‘n Kind bekommer hom nie oor universiteits toelating as hy drie of vier jaar oud is nie. ‘n Kind bevraagteken nie die toekoms nie, tensy dit ‘n onmiddellike gevaar in hou nie. ‘n Kind is nie bekommerd wat op die aandelemark aangaan nie, of om ‘n lening te bekom of om ‘n voertuig te bekom nie. ‘n Kind is nog minder bekommerd oor die punte wat hy op skool gaan behaal en of dit goed genoeg gaan wees om verder te gaan studeer. ‘n Kind sit sy hand in sy Pa s’n terwyl hulle langs die strand loop en bewonder die skulpe en die seewater wat skuim as dit op die strand uitspoel. ‘n Kind dink net aan nou, die huidige oomblik, want vader voorsien alles wat hy nodig het. Dis geloof, hoop en liefde in aksie daardie!
Dis waarom Jesus in Mattheus 18:3-4 vir ons sê: “[3] Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! [4] Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”
Vanuit die wêreld se oogpunt is dit vernederend om so afhanklik soos ‘n kind te wees, maar uit Jesus se oogpunt is dit presies waar Hy ons wil hê. Om op daardie vlak afhanklik van Hom te wees, om Hom eerste te stel en om te weet dat Hy in alles sal voorsien wat ons nodig mag hê sonder om te bevraagteken. Wanneer jy so afhanklik is, het jy geen beheer nie, geen besluitnemings vermoë nie en geen sê in enige iets nie. Jy vat net Pappa se hand en stap die lewenspad saam met Hom. Prys die Naam van Jesus!
Julle sien, liewe lesers, dit is ons onsekerhede wat ons motiveer om ‘n sekere lewe te lei. Dis ons onsekerheid oor die voorsiening van basiese behoeftes was ons motiveer tot ‘n lewe van onderdanigheid in plaas daarvan dat ons die lewe van totale vervulling ervaar soos wat Jesus van die begin af vir ons beplan het. Dis is ook die vrees van swaarkry, gemak, beskerming en aanvaarding deur die gemeenskap wat belangrike rolle speel. Wanneer ons onsself oorgee aan Jesus, dan los ons hierdie bekommernisse en plaas ons ons lewe geheel en al in die hande van Jesus.
Wanneer ons oorgee in die Hande van Jesus, dan is Hy in volle beheer en kan Hy ons lei na die ware doel van die lewe. Ja, daar is oomblikke wat vreesaanjaend is, pynlik en deurmekaar, maar wanneer ons Jesus ten volle vertrou, dan hou ons op om hieroor bekommerd te wees. Om jou lewe oor te gee in die arms van ‘n Liefdevolle Vader en ‘n Liefdevolle Jesus, is die sleutel om vrede te hê in die midde van ‘n deurmekaar lewe.
Jesus het homself al oor en oor aan sommige van ons bewys. Sommige van ons is egter nuut en beweeg daarom versigtig in hierdie groot nuwe wêreld. Dis belangrik dat ons moet onthou van die kere toe Jesus vir ons uitgehelp het toe alles hopeloos gelyk het. Hierdie gebeurtenisse dien as bewys van Jesus se getrouheid en dat Hy SAL help. Wanneer die wolke begin saampak en die weerlig begin slaan, onthou dan die laaste keer wat Jesus jou gered het en onthou dat Hy jou NOOIT in die steek sal laat nie.
Vat dan nou Jesus se Hand. Vertrou in Hom om jou na jou bestemming te vat en onthou dat Hy altyd saam met jou is, altyd met jou praat, altyd daar is om jou te lei en altyd daar is om jou vas te druk.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!