Jou ontwerpers kruis

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal hou van ontwerpers klere, maar het julle geweet dat Jesus vir elkeen van ons ‘n ontwerpers kruis gegee het?

Jesus het ‘n unieke plan met elkeen van ons en dis waarom nie een kruis dieselfde is nie. Jy kan ook nie jou kruis met iemand anders s’n uitruil of deel nie. Jou kruis pas vir jou en vir jou alleen; spesiaal gemaak dat dit gemaklik kan pas afhangende van hoe sterk jy in Jesus is.

Jesus toets elkeen van ons op Sy eie manier. Hierdie toetse moet kom sodat ons vooruitgang kan maak en kan groei in ons geestelike lewens. Wees dus standvastig, wees geduldig en wees nederig. Hierdie is die dinge wat jou kwalifiseer vir bevordering in die diens van Jesus. Sodra Jesus sien dat jy die een vlak bemeester het, dan beweeg Hy jou aan na die volgende vlak. Elke vlak bring nuwe uitdagings, maar ook meer seënings!

Moenie bekommerd wees oor die toetse nie, want Jesus gaan elke stap met ons wees. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor God se agenda en die redding van siele. Alles is in Jesus se hande. Die van julle wat volhard sal agterkom dat seëninge in hierdie dae gaan vloei soos ‘n rivier.

Nie een dag sal verbygaan sonder dat jy nie getoets gaan word nie. Wees dus gewaarsku. Die goeie wat hieruit gaan kom is dat baie van julle sal ‘n nuwe vlak van heiligheid gaan bereik deur die toetse wat julle nou onderworpe is. Staan saam en ondersteun mekaar as julle getoets word.

Hierdie is die merk van Jesus se eindtyd weermag: broederliefde! Vir hoe lank ons ook al nog op aarde gaan wees, wil Jesus hê dat ons meer en meer heilig moet lewe. Onthou, dat dit nie gaan oor vooruitgang, populariteit of mag nie, maar eerder oor geregtigheid, vrede en liefde vir jou naaste in die middel van ‘n korrupte wêreld wat net sy eie plesier najaag.

Elkeen van julle sal geroep word om te dien in een of ander kapasiteit, of dit nou is om ‘n ouer persoon oor die straat te help of dit is om vir iemand te bid. Hoe meer vertroue ons in Jesus het, hoe suksesvoller gaan ons gebede wees. Moet nie eers in hierdie tyd dink aan jou swakhede nie, want Jesus sal niks toelaat wat jy nie kan oorkom deur Sy seëninge nie. Daar is geen rede om bevrees te wees nie. Moet ook nie dink dat jy te swak is nie, want Jesus se krag sal deur ons swakhede skyn en jy sal verras wees met die resultate!

Baie van julle het tot nou toe op julle eie stoom geloop, maar nou vra Jesus dat ons geheel en al op Hom moet staatmaak om ons deur die storms te dra. Hoe minder jy van jouself dink, hoe beter gaan jy vaar, want jy gaan totaal op Jesus gefokus wees en Sy vermoë om jou te dra. Die deurbraak gaan kom wanneer jy dink dat alles ‘n mors van tyd is.

Die doel agter alles is omdat Jesus wil ons wegkry van ons eie vermoëns. Hy wil hê dat ons totaal afhanklik van Hom moet wees. As ons dit doen, gaan die toetse baie maklik wees omdat ons op Jesus vertrou om alles te doen. Hoe meer jy op Jesus vertrou, hoe beter gaan die resultate wees.

Baie gaan hulleself hoor sê: “HERE, ek kan nie hierdie doen nie; ek is nie sterk genoeg nie.” Hierdie is die geheim! Om te laat gaan sodat Jesus kan oorvat, want dit wys dat jy nederig is en die wil om alles om jou te beheer laat vaar het. Moenie probeer om dit op jou eie uit te werk nie en moet ook nie probeer om dit met jou vermoë te vergelyk nie. Los dit vir Jesus en beweeg aan. Jesus sal werklik die res doen! Wat ‘n Christen groot maak in die Koningryk van Jesus is sy vermoë om Jesus in alles eerste te stel. In alles! Hoe meer jy in die Hande van Jesus plaas, hoe meer suksesvol gaan jy wees en hoe meer gaan Jesus deur jou skyn en die rondom jou genees!

Dis belangrik om te weet dat ons idee van sukses nie God se idee van sukses is nie. Dis daardie oomblik wat jy jouself as ‘n totale mislukking sien, wat Jesus die naaste aan jou is! Moet dus nie soek vir wêreldse sukses nie, maar eerder hoe om te groei in heiligheid en toe weiding aan Jesus. Hoe minder jy die wêreld se guns soek, hoe meer gaan jy groei in die Koningryk van die Hemele.

Ek weet ek herhaal myself baie, maar dis belangrik dat julle hierdie begrippe moet verstaan. Die lesse gaan baie makliker wees as julle onthou wat gesê is en dit toepas. Daarom vra ek weer dat as jy getoets word om nie op jou eie kragte staat te maak nie. Hou op om op jouself te wil staatmaak, want die eie-ek is gif in die Koningryk van Jesus. Stap uit in die onbekende en kyk hoe Jesus oorvat en jou lei. Jy gaan verbaas wees wat Jesus deur jou gaan doen!

Onthou: vriendskap met die wêreld is vyandskap met God. Wees wys soos slange, opreg soos duiwe en so afhanklik van Jesus soos ‘n baba wat leer loop. Hierdie houding, gekoppel aan nederigheid, geduld en broeder liefde sal jou laat slaag waar ander vaal. Daar gaan baie oorwinnings wees vir die wat hierdie woorde letterlik opneem.

Net voor ek afsluit wil ek vir julle ‘n getuienis vertel wat direk betrekking het op wat Jesus hierbo noem. Ek het my elke aand morsdood bekommer oor my finansies. Dit het my opgevreet tot op so ‘n mate dat ek ure lang wakker gelê het daaroor. Dan gryp ek die Bybel en elke slag slaan ek oop op die stukkie waar Jesus vra waarom ons ons so bekommer oor môre. Hy sorg vir die voëls en die diere wat nie in skure bymekaarmaak nie. Waarom sal Hy dan nie vir ons sorg nie? Ek kon dit nooit verstaan nie totdat ek geleer het om alles in die Hande van Jesus te plaas. Om die waarheid te sê het ek dit gedoen omdat ek geen ander uitweg meer gesien het nie! Skielik het alles net uitgewerk! Ek was verstom, maar ek het geleer om Jesus te vertrou! Ek het begin om meer en meer van my bekommernisse op Jesus af te skuif. “Ek kan nie hierdie doen nie. Wil jy nie asseblief oorvat nie, HERE?” Dit werk liewe leser! Julle sal nie glo hoe maklik die lewe is as jy dit begin toepas nie! Skielik het ek meer geduld gehad, meer broederliefde en was ek baie nederiger! Ek het nie skielik meer geld elke maand nie, maar ek het genoeg en ek het nooit enige tekort nie! Dit wat hierbo staan is sonder twyfel die waarheid! Probeer dit gerus!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 148 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .