“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Johannes 15:5)
Hierdie is ‘n uitnodiging om in die HERE te bly en Hom alles te gee wat ons het, want as ons in die Wynstok bly, dan groei ons saam met die Wynstok! In die boodskappe wat ek voorheen gebring het, het die HERE gesê dat daar iets groot vir ons wag en dat Hy ons drome wil verwesenlik as ons net vashou aan Hom.
Kom ek verduidelik: Die pad Hemel toe het klein trappies, so klein dat selfs ‘n kind dit kan loop, maar hoever teen hierdie trappies ons bereid is om op te gaan, hang geheel en al van onsself af. Daar is verskillende vlakke en party van ons is meer as gelukkig om op die een vlak te bly waar dit vir ons gemaklik voel. Ons gaan gereeld kerk toe en ons bid gereeld en vir baie is dit meer as genoeg, maar daar is soveel meer! As jy net bereid is om verder teen die trap op te klim! Die pad saam met die HERE is om altyd hoër te klim. Dit gaan so aanhou tot ons eendag in die Hemel kom en dan gaan dit heel moontlik aanhou; steeds hoër!
Die HERE roep ons nou tot ‘n hoër vlak saam met Hom. Dit beteken nie dat jy meer moet vas, of jouself moet verarm nie. Nee, dis anders vir elke persoon. Elke persoon se pad met die HERE is anders. Die HERE wil meer intiem met elkeen van ons wees en daar gaan opofferings wees wat gemaak gaan word, maar daar gaan ook groot belonings wees vir die wat bereid is om die pad te loop.
Soos altyd is daar vryheid van keuse. As jy nie bereid is om die pad te loop nie, beteken dit nie dat die HERE jou gaan afskryf nie. Nee, Hy het gesê dat Hy altyd met ons sal wees en Hy bedoel dit. Jy kan dus bly in jou gemaksone en die HERE dien soos dit vir jou gemaklik is en daar gaan niks mee verkeerd wees nie. Maar as jy bereid is om die pad verder te loop, gaan die vyand nie met jou kan mors nie, want jy gaan vasgegom aan Jesus wees!
Ek doen dit self! Ons bereik ‘n vlak met die HERE en dan sê ons vir onsself: “ Sjoe, dis lekker gemaklik hier. Wat daarvan as ek hier bly. Ja, ek dink ek gaan hier bly, want dis gemaklik en voorspelbaar hier en ek weet wat gaan gebeur!” Dan bly ons daar en ons vorder niks verder in ons groei met die HERE nie.
Maar die pad met die HERE is nie net die bekende nie. Dis ‘n wilde woeste rit agter op ‘n tandemfiets! Bo-oor klippe en rotse, vinnig teen nek breek snelhede deur skadu dale en oor plekke waar jy by jouself dink: “HERE ek hoop jy weet wat jy doen!” Dis die pad saam met die HERE en dis waarom die aanbod gemaak word om hoër te klim, maar nie almal gaan dit aanvaar nie. Onthou, as jy die pad wil loop, kan jy dit nie half hartig doen nie. Jy kan nie net halfpad gehoorsaam wees nie. Jy is of gehoorsaam aan die HERE of jy is nie. Daar is geen maklike middel pad nie, maar vir elkeen van ons is die pad anders. Nie een persoon se pad met die HERE is dieselfde nie.
Die opoffering wat jy gaan moet maak gaan dus iets persoonlik en eie aan net jou wees. Dis nie dat die HERE jou wil onderdruk nie, maar die opoffering gaan oor gehoorsaamheid en of jy bereid is om gehoorsaam te wees ongeag wat die koste gaan wees. Abraham was bereid om sy seun te slag om gehoorsaam aan die HERE te wees. (Genesis 22) Jy kan nie net halfpad gehoorsaam wees nie; dis alles of niks.
Vir sommige gaan die opoffering finansieel wees. Vir ander gaan dit weer iets in hulle lewens wees wat hulle gaan moet opoffer. Dis anders vir elkeen van ons. Die HERE sal aan jou openbaar wat jou toets van gehoorsaamheid gaan wees soos jy saam met Hom hoër klim. Vir sommige gaan die toets net te groot wees, maar weet dat die HERE met jou is en saam met Hom, kan jy die onmoontlike doen soos in 2 Sameul 22:30 “Want met U loop ek ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur.”
Die HERE roep jou nou om ‘n keuse te maak en op te hou om op die draad te sit. Die pad met die HERE hou nooit op nie en Hy wil jou nie langer miserabel en ongelukkig sien nie. Hy wil jou gelukkig en vry sien, dis waarom jy moet aanhou loop! Maak dus die keuse, selfs al weet jy nie waarheen die pad jou gaan vat nie. Vertrou op die HERE om die regte ding te doen!
Die HERE het ongelooflik baie om vir ons te gee, maar dit hang alles af van hoe honger ons vir Hom is en hoe baie jy bereid is om vir die HERE op te gee. Jy moet bereid wees om op te gee en dit dan opgegee te hou. Daar is baie evangeliste regdeur die wêreld wat baie van die HERE het. Jy kan ook daar wees as jy bereid is om die pad te loop.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!