Dis alweer daardie tyd waar ons amper aan die einde van nog ‘n jaar gekom het. Hoe vinnig het die tyd nie gevlieg nie…
Dis gewoonlik in hierdie tyd waar ons almal hopeloos meer spandeer as wat ons inkomste toelaat. Jesus waarsku ons egter om versigtig te wees met ons geld, want hierdie tyd van die jaar is soos ‘n goed geoliede slagyster wat daarop ingestel is om jou meer geld te laat spandeer as wat jy het sodat jy die grootste gedeelte van die volgende jaar gebukkend kan gaan onder die terugbetalings!
Soos verwag kan word sit satan hieragter, maar Jesus wil hê dat ons slimmer moet wees as ons teëstander. Jesus verwag nie van ons om onsself in die skuld te steek nie, maar om eerder te fokus op die eenvoudige dinge in die lewe en op Sy geboorte wat ons binnekort gaan vier. Onthou dat dit die klein dingetjies wat u met u familie doen wat krag dra, nie die groot en duur geskenke nie.
Ons wat die Bruid van Jesus is, moet ons egter weerhou daarvan om te val vir die koop gier. Ons pynig Jesus vreeslik as ons so uitspattig koop… Pasop vir die uitverkopings wat doelbewus opgestel is om jou te laat val in die strik van materialisme. Daar is niks verkeerd om vir mekaar geskenkies te gee nie, maar hou dit klein en eenvoudig en moenie dat dinge hand uit ruk en u in die slaggat van skuld val nie.
En as u val as gevolg van swakheid, onthou om na Jesus toe te hardloop en nie weg van Hom af nie. Dit maak nie saak hoeveel keer u val nie; dis wat u daarna doen wat tel! Vir Jesus gaan dit oor wat in die hart aangaan en nie hoeveel keer u val uit menslike swakheid nie. Vra onmiddellik vir vergifnis as u oortree het en beweeg aan. Moenie uself kasty nie, want dit kom neer op trots wat ‘n groter sonde is!
Moenie u steur aan die wat negatiewe gedagtes saai en hierdie tyd van die jaar kritiseer nie. Dit is waar dat Jesus nie in ‘n Desember gebore is nie, maar onthou dat Jesus hierdie tyd gebruik om mense na Hom toe aan te trek. Baie genade word hierdie tyd uit die Hemel na die aarde toe gestuur. Het u byvoorbeeld geweet dat Jesus engele stuur wat teenwoordig is by elke kerk optrede waar die geboorte van Jesus uitbeeld word? As u een van hierdie opvoerings al bygewoon het, is ek seker dat u die soete genade van Jesus gedurende hierdie opvoerings gevoel het. Het u al opgelet hoe mense na mekaar toe aangetrek word na die opvoering verby is en hoe kinders, maande, selfs jare daarna nog oor die opvoerings praat? Dit is wat die genade van Jesus doen. Moet dus nie hierdie tyd van die jaar veroordeel nie.
Onthou dat dit wat u vir die armes doen uit liefde uit, sal vir altyd vir u tel. Bly binne die Wil van Jesus en vermy die sluipende vuil geeste wat daarop uit is om u hart van Jesus af weg te rokkel. Wees lief vir u naaste en wees ‘n weerspieëling van Jesus in alles wat u hierdie Kerstyd doen.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!