Ons tyd is min; baie-baie min! Die Bruidegom is op pad en dit gaan die wêreld met ‘n skok tref, net soos in die tyd van Noag!
In die gelykenis van die Tien Maagde soos opgeteken in Mattheus 25 lees ons van vyf meisies wat gereed was om die Bruidegom te ontmoet en van vyf meisies wat nie gereed was nie. Ons almal ken die verhaal, daarom gaan ek dit nie weer herhaal nie.
Die olie lampies waarna Jesus verwys in hierdie stuk, het die olie van die Heilige Gees bevat. Vyf van die meisies het genoeg van hierdie olie gehad om deur die lang wag te kon gaan, maar vyf van hulle het nie. Waarom het die meisies dan nie genoeg olie gehad nie? Omdat daar sonde in hulle lewens wat hulle nog nie bely het voor die HERE nie.
Daar is vele Kinders van die HERE wat dink dat hulle gereed is om voor die Bruidegom te staan, maar hulle is nie, omdat hulle sonde in hulle lewens het. So baie Kinders van die HERE hou hulle besig met vleeslike sondes. Ons lees hiervan in Galasiërs 5:19-21 “[19] En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; [20] afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; [21] afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”
Liewe lesers, luister en luister nou baie mooi. As jy hierdie sonde in jou lewe het, sal jy die wegraping nie meemaak nie, ongeag of jy gered is of nie. Paulus skryf aan Petrus in 1 Petrus 1:16 “omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” Hierdie is ‘n direkte herhaling van Levitikus 19:2 in die Ou Testament.
‘n Heilige Leefstyl word moontlik as jy die Heilige Gees volle toegang tot jou lewe gee om te verander soos wat die Gees wil. Dis dan wanneer ons in die Gees begin wandel soos daar in Galasiërs 5:16 geskryf staan. Jy sal dan agterkom dat jy die vrugte van die Gees in jou lewe begin groei. Die vrugte van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. (Galasiërs 5:22)
Ek kan nie begin om aan julle te verduidelik hoe belangrik hierdie dinge is nie. Jy sal agterkom dat jy niks meer sonder Jesus wil doen nie. As jy val en sondig, is jy dadelik daar om vergifnis vir jou oortreding te vra.
Julle sien, niemand van ons is perfek nie; nie eers ek nie. Partykeer voel ek lus om soos Petrus uit te roep: “Here, gaan weg van my, want ek is ‘n sondige mens!” Maar dan omvou Jesus my in Sy liefdevolle arms en sê: “Kom na my almal wat vermoeid en belas is en Ek sal vir julle rus gee.”
Liewe leser, Jesus het jou lief met ‘n liefde wat ek nie in woorde kan omsit nie. Jy is sy alles en Hy begeer om jou saam met Hom in die Hemel te hê, maar Hy is ‘n Heilige en Regverdige God en daarom staan sonde tussen jou en Hom. Daardie sonde moet uit die weggeruim word en ons moet sorg dat ons gereeld vergifnis vir ons sonde vra. Jy hoef nie perfek te wees nie, maar jy kan perfek wees in die manier hoe jy vergifnis vra.
Ons tyd is baie min; minder as wat baie van ons dink. Jesus kan enige tyd kom vir Sy Heilige Bruid en as jy nie gereed is nie, sal jy agterbly. Ek wil dit nie vir een van julle hê nie; dis waarom ek so baie oor hierdie onderwerp skryf. Ek moet almal wat hierdie boodskap lees waarsku sodat hulle betyds kan regmaak.
Maak reg vir Hom wat kom en vul julle olie lampies. Die lang wag is amper om!
Prys die Naam van Jesus!