Hou op om jou met ander te vergelyk

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dis seker menslike natuur om onsself teen ander op te weeg, maar op die ou end is dit God se opinie wat tel en nie menslike standaarde nie.

Ek mag die Woord van die HERE vir julle bring, maar ek is ook net ‘n mens en ek wens ook baie keer dat ek nog meer kan doen, veral as ek sien of lees hoe geseënd iemand anders in die HERE is. Julle sien, dis waar die probleem lê, want ons sien raak wat ander het, maar ons vergeet totaal van dit wat ons het. Die seëninge wat die HERE vir ons gee; dié sien ons glad nie eers raak nie!

Ek gesels gereeld met Jesus. Partykeer antwoord Hy en partykeer bly Hy het stil, maar ek weet Hy luister! Baie mense dink dat as Jesus met ons praat dan is dit met ‘n hoorbare stem, maar dit is nie so nie. Jesus praat met ons deur Sy Woord, deur ons gedagtes en ook deur dit wat ons sien en ervaar. Maar Jesus se stem is baie sag en dit word maklik deur die sorge van die lewe verdoof. Dis waarom dit makliker is om in die nag met Jesus te gesels wanneer alles stil is en daar niks anders is om ons gedagtes af te lei nie. Slegs as jou eie gedagtes stil is en jy jou oor niks bekommer nie, sal jy die stem van Jesus kan hoor.

So skrik ek die een oggend baie vroeg wakker. Ek het eers verder probeer slaap, maar die slaap wou nie kom nie; toe begin ek om met Jesus te praat. Van kindsbeen af was ek nog nooit iemand ‘n lang gebed kon doen nie. Ek luister partykeer so na ander mense hoe maklik hulle vir ‘n halfuur aanmekaar kan bid sonder om een ding twee keer te noem! Dis iets wat ek glad nie kan regkry nie. Al my gebede is kort en op die man af. Bidure by die kerk was vir my uiters vervelig, want ek kon nooit werklik saam bid nie. Hoe mense dit regkry om so lank en so baie te bid is vir my ‘n raaisel. Hoe onthou hulle alles? Ek het baie keer gevoel soos daardie gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar in Lukas 18:10-14, waar die Fariseër ‘n lang gebed gedoen het en die HERE geprys het dat hy nie soos ander mense is nie. Al wat die arme Tollenaar kon doen was om nie eers na die Hemel te kyk nie maar net te sê: “Wees u arme sondaar genadig.” Alles dit het ek vir Jesus genoem.

Jesus antwoord: “So jy dink meer is beter?”

Dit was nie die antwoord wat ek verwag het nie en ek het vir ‘n oomblik met ‘n mond vol tande gestaan en nie geweet wat om te sê nie! Ek het inderdaad gewonder of my gebede nie dalk beter was omdat hulle so kort was nie! Ek het begin lag, want ek het besef hoe ‘n dom ding dit is wat ek oor gewonder het. “Nee, seker nie.” antwoord ek.

Jesus antwoord: “Het ek jou dan nie uniek gemaak nie?”

‘n Emmer koue water het my getref, want ek het skielik besef dat ek so hard probeer het om myself teen ander mense op te weeg, dat ek vergeet het dat ek uniek is. Nêrens in die wêreld is daar iemand anders soos ek nie. Net ek kan in daardie spesiale plekkie in Jesus se hart in pas; niemand anders nie en niemand anders kan my plek invat nie.

En dis die lank en die kort van my boodskap. Hou op om te wens dat jy soos ander kan wees. Jy is uniek liewe leser. Jesus het jou gemaak met jou tekortkominge net soos jy is en die rede waarom Hy jou so gemaak het is sodat jy in Sy hart kan inpas. Net jy, met al jou foute kan in daardie plekkie inpas; niemand anders kan nie. Niemand anders kan jou plek volstaan nie. Jy is uniek! Daar is net een soos jy!

Hou dus op om jouself te skop en te maak asof jy niks werd is nie. Jy luister na satan as jy dit doen, want satan wil baie graag hê dat jy moet dink dat jy niks werd is nie. As jy dink dat jy niks werd is nie, dan sal jy vir satan geen bedreiging wees nie, verstaan jy?

Onthou dat jy so baie werd is dat Jesus bereid was om uit die Hemel uit te kom en op hierdie aarde aan ‘n houtkruis te sterf sodat jy nie verlore hoef te gaan nie. Dis hoe uniek jy is en hoe baie jy werd is; so moenie na satan se leuens luister nie. Al die goud in die wêreld kan jou nie eers koop nie.

Hou dus op om jouself te vergelyk met ander mense. Wat jy nie weet nie is dat hulle tien teen een wens dat hulle soos jy kan wees!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 584 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .