Moenie moed opgee nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal verloor moed op een of ander tyd in ons lewens en ons almal wonder dan of Jesus nog in beheer is…

Dis wanneer dinge op sy donkerste is, wanneer jy geen uitkoms meer sien nie, wanneer jy opgee en op die grond gaan sit van moegheid; dis dan wanneer Jesus instap en deure vir jou maak wat daar nie voorheen was nie. Ek was al ‘n paar keer in my lewe daar en ek kan getuig van die dinge wat Jesus vir my gedoen het in my donkerste ure.

Onthou: Jesus bly in beheer, selfs al kan ons geen uitkoms sien nie. Dink aan iemand wat ‘n groot vragmotor bestuur. Jy wat in die motor agter die vragmotor ry sien net die heuwel waaroor al twee van julle moet ry, maar die vragmotorbestuurder sit hoog en hy kan oor die heuwel sien voor jy in die motor sal kan. Dis Jesus daardie. Hy sien ver in die toekoms, maar ons kan nie en dis waarom dinge vir ons so donker en onoorkombaar lyk.

Wees verseker dat Jesus jou nooit deur iets sal laat gaan as Hy nie saam met jou is nie. Hy is altyd daar; soms dra Hy jou en dis waarom ons baie keer in die moeilikste dele van ons lewens net een stel spore agter ons sien. Dit was die tye in ons lewens waar Jesus ons gedra het!

Laat Jesus dus toe om te doen wat Hy moet doen, en moenie probeer inmeng met jou gebrekke kennis nie. Jesus weet wat Hy doen; daarvan kan jy verseker wees! As jy nie weet wat om meer te doen nie, bid dan.

Bid vir wysheid om die situasie waarin jy in te bowe te kan kom. Bid vir genade en as dit iemand is wat jou lewe so moeilik maak, bid dan vir daardie persoon ook, want daardie persoon doen hierdie dinge nie op sy eie nie, maar word deur satan beïnvloed.

Ons tyd op hierdie aarde is amper om en dan gaan niks van hierdie swaarkry wat ons nou beleef enigsins meer saak maak nie. Stry dus die goeie stryd terwyl ons nog die tyd het om dit te doen.

As mense het ons die neiging om te dink dat ons leeus is, maar die waarheid is dat ons baie swakker is as wat ons dink ons is. As dit by sonde kom, sal jy nooit perfek sondeloos kan wees nie. Daarvoor is ons te swak, maar ons kan perfek beroubaar wees! Dit beteken dat as jy oortree; gaan vra dan dadelik vergifnis vir jou oortreding. Moenie uitstel tot ‘n volgende keer nie, want daar gaan heel moontlik nie ‘n volgende keer wees nie!

Gaan daarom op jou knieë en vra vir Jesus om deur die Gees aan jou uit te wys of daar enige sonde is wat tussen julle staan. Dit wat Jesus heel eerste daarna vir jou wys, dit is waarvoor jy moet bid. Dit werk, want ek het al ou sonde wat ek van vergeet het, so reggemaak! Prys die Naam van Jesus!

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9)

As leraar wil ek nie hê dat dit enige een van julle wat hierdie lees moet agterbly omdat daar uitstaande sonde was waaroor daar nooit vergifnis gebid was nie. Ek bid dat ek die kudde wat Jesus aan my toevertrou het voltallig aan Hom sal kan terug gee die dag as Hy kom om ons te kom haal. Amen!

Vanoggend het Jesus vir my Sagaria 3 gegee om te lees en ek gaan spesifiek stilstaan by verse drie en vier: [3]  En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. [4]  Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.”

Ons is op die punt om die wenstreep oor te steek, liewe leser! Dan sal hierdie vuil sondige bestaan vir altyd van ons weggeneem word en daar sal aan ons feesklere gegee word om aan te trek! Ons wat volhard het tot die einde toe en die wenstreep oor gesteek het! Prys die Naam van Jesus!

Wees daarom perfek berouvol vir die HERE en hou julle bruilof klere skoon! Ons tyd is naby. Die wenstreep is voor ons. Hou goeie moed, want dis nog net ‘n klein rukkie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 930 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .