Ons is deur Jesus uitverkies

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dis geen geheim meer nie: die wêreld haat die Kinders van die HERE.

Ek weet dat daar van julle is wat dit al persoonlik ervaar het en ek is ook een van hulle! Jesus sê dat dit ons nie moet ontstel nie, want net soos die wêreld ons nou haat, het hulle vir Jesus ook gehaat. Die rede waarom die wêreld ons so haat is omdat ons nie van hierdie wêreld is nie. As ons was, dan sou die wêreld ons lief gehad het, maar omdat ons nie is nie, maar deur God uitverkies is, nou haat die wêreld ons.

Hulle sal hierdie dinge aan ons doen omdat hulle Jesus nie ken nie. Hulle sal ons haat sonder oorsaak omdat hulle Jesus ook sonder oorsaak gehaat het, maar Jesus sê ook dat wie Hom haat, ook die Vader haat omdat Hy en die Vader een is. Jy kan dus nie die een haat en nie die ander nie. (Johannes 15:16-27)

Omdat ons hierdie bediening het wat ons volgens barmhartigheid ontvang het, gee ons nie moed op nie. Ons wandel nie meer in listigheid en valsheid nie omdat ons hierdie dinge wat skadelik is opgegee het om in die lig te wandel. As die evangelie dan nog bedek is, dan is dit bedek vir die wat verlore gaan. Die ongelowiges wie se sinne verblind is sodat hulle die heerlikheid van Christus nie kan sien nie. Ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as HERE en ons as Sy diensknegte!

Alhoewel ons in alles verdruk word, is ons nie terneergedruk nie. Ons is verleë, maar nie radeloos nie. Ons word vervolg, maar ons is nie verlate nie. Ons is neergewerp, maar nie vernietig nie. (2 Korintiërs 4:1-9)

Ek het aan julle die evangelie verkondig waarin ek nou staan; die evangelie wat julle aangeneem het en ook in staan. Die evangelie waardeur julle ook gered gaan word as julle daaraan vashou; dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die geskrifte, dat Hy begrawe is en op die derde dag opgestaan het, dat Hy in die Hemel opgeneem is van waar Hy gaan kom om die wêreld te oordeel. (1 Korintiërs 15:1-4)

Ons is wie ons is deur die genade van God en Sy genade aan ons was nie tevergeefs nie. Ons het almal oorvloedig gearbei, maar nie op ons eie nie; maar deur die genade van God wat in ons is.

Liewe Kinders van die HERE: ons tyd op hierdie aarde is amper op ‘n einde. Ek weet daar is van julle wat bekommerd is oor julle geliefdes. Ek is ook, maar deur die Gees het Jesus vir my gesê dat ek hulle nie kan red nie. Hierdie woord is waar, want elkeen van ons het die vryheid van keuse en daardie vryheid van keuse kan nie van ons weggeneem word op enige manier nie.

Almal van ons moet self en op ons eie besluit om God te dien. Niemand kan daardie keuse vir jou maak nie en jy kan ook nie iemand dwing om daardie keuse te maak nie, selfs al weet jy uit jou hart uit dat dit die beste en die regte keuse is om te maak. Elkeen moet vir homself besluit.

Jesus het ons uitverkies en ons aangestel om vrug te kan dra. Ons werk is om die waarheid te verkondig en deur dit te doen sal ons van die Vader kan vra net wat ons wil en dit sal aan ons gegee word, maar ons moet mekaar lief hê; ook die wat ons ons sonder rede haat. Ons moet nie vra waarom nie, want ons is gesante van die HERE en as gesante is ons nie groter as die een wat ons gestuur het nie.

Ons hoef ook geensins oor enige iets bekommerd te wees as ons gevra gaan word om te getuig nie, want die Gees sal vir ons getuig; getuig dat ons die waarheid spreek net soos Hy van Jesus ook getuig het.

Die rede waarom ons van Jesus getuig is sodat die wat die aanhoor kan besef dat hulle sondig is en daardeur vergifnis vir hulle sondes kan soek. Maar vir die wat dit aanhoor en nie daarop ag slaan nie, vir hulle sal daar geen verskoning vir hulle sondes wees nie.

Getuig daarom van Jesus sonder vrees. Dra die vrug van die Gees en leef jou lewe daarvolgens. Jy is nie van hierdie wêreld nie en daarom is jy anders. Mense is bang vir anders en daarom vrees hulle jou en sal jy selfs gehaat word. Moenie dat dit jou afskrik nie, want hulle het Jesus gehaat voor jou.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 229 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .