Die pad wat die HERE met elkeen van ons loop is anders van persoon tot persoon en niemand se pad met die HERE is ooit dieselfde nie.
Vandag gaan ons kyk na die verhaal van die hoofman oor honderd van Kapernaum soos in Mattheus 8:5-10 opgeteken: “[5] En nadat Jesus in Kapernaum ingegaan het, kom daar ‘n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom [6] en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne. [7] Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. [8] En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net ‘n woord, en my kneg sal gesond word. [9] Want ek is ook ‘n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. [10] Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.”
Net vir die agtergrond, ‘n hoof man oor ‘n honderd word ook ‘n Centurion in Engels genoem. Van julle sou sekerlik al die term gehoor het in films oor die Romeinse reik. Sy rang was gelykstaande aan ‘n Sersant Majoor in die weermag of ‘n Adjudant Offisier. Hulle het met ‘n kort dik stokkie wat so om en by 30 sentimeter lank is rondgeloop en die soldate wat nie wou luister nie met die stokkie geslaan. Hulle was daarom mense wat baie gesag in die weermag gehad het, want hulle was die mense wat moes toesien dat dissipline gehandhaaf word.
Ek het self in ‘n semi-militêre organisasie gewerk en die eerste ding wat hulle jou leer is om bevele te gehoorsaam. As die sersant sê spring, dan spring jy. Jy vra nie eers hoe hoog nie; jy begin sommer so hoog spring as wat jy kan uit die staanspoor uit! Dis hoe militêre dissipline werk, want die definisie van ‘n goeie soldaat is iemand wat bevele gehoorsaam!
As dit kom by geloof moet mens ook baie keer net jou oë toeknyp en net doen. Jou uitkyk moet wees dat as die HERE jou hierin gekry het, dan kan Hy jou weer hieruit kry ook! Dis dan wanneer ons leer om ons klein handjie in Pappa se groot hand te sit en onvoorwaardelik te glo en te vertrou!
Waarom doen die HERE dit? Jesus het oneindig baie geskenke wat Hy met ons wil deel, maar jy kan nie iets met iemand deel wat nie volwasse genoeg is om dit te verstaan nie. Het julle al gesien wat gebeur met iemand wat baie geld wen? Hy bevredig eers al sy aardse begeertes en hy mors die geld uit om nuttelose dinge. Baie gou is hy weer net so arm soos wat hy was!
Dis wat gaan gebeur as Jesus Sy geskenke net uitdeel sonder om ons te toets of ons gereed is daarvoor. Voor Hy vir jou meer geld gee as wat jy weet wat om mee te maak, gaan Hy eers seker maak dat daardie geld nie tussen jou en Hom gaan staan nie. Verstaan julle? Hy wil hê dat jy die geskenk moet verstaan en dit oordeelkundig moet gebruik.
Wees dus bly as jy getoets word! Wat die HERE sal NOOIT toelaat dat jy bo jou kragte getoets word nie, selfs al lyk dit partykeer vir ons so.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
