Ons almal wag geduldig op die wegraping; gereed as die basuin blaas, maar ons besef nie die prys wat ons gaan betaal vir daardie dag nie.
Jesus lê hierdie boodskap baie hard op my hart en ek moet dit aan julle bring, want Hy wil hê dat julle moet weet dat die wegraping nie net ‘n geval is om geneem te word nie, maar dat daar ‘n baie duur prys is om te betaal daarvoor.
Jesus sê vir ons in Mattheus 10:37 hierdie bekende gedeelte: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”
Baie van ons lees dit en ons dink ons verstaan wat gesê word, maar eintlik verstaan ons dit nie. Wat Jesus vir ons sê is dat as Hy nie nommer een in ons lewens is nie, dan is jy Hom nie waardig nie. Ons almal het vriende, familie, mans of vrouens en ons is baie lief vir hulle wat in lyn is met die Woord van God, maar hierdie verhoudinge mag onder geen omstandighede bo ons verhouding met Jesus staan nie. As dit gebeur, sê Jesus vir ons dat ons Hom nie waardig is nie.
Dit beteken nie dat ons nie verhoudings met die om ons mag hê nie, maar dit beteken wel dat Jesus bo alle verhoudinge altyd ons nommer een keuse behoort te wees. Jesus wil nommer een in jou lewe wees , bo die verhouding met jou man, jou vrou en jou kinders wees, want Hy is ‘n jaloerse God en Hy het jou geken nog voor jy gebore was en Hy het jou by jou naam geroep; jy is daarom Syne! Verstaan julle?
Die oomblik as die wegraping aanbreek, gaan jy bereid moet wees om al hierdie verhoudinge wat jy met die mense om jou het eenkant toe te skuif vir Jesus. Jy gaan bereid moet wees om jou man, jou vrou en jou kinders agter te laat om deur die verskrikking van die wegraping te gaan sodat jy saam met Jesus kan gaan. Is jy bereid om daardie keuse te maak, liewe leser? As jy nie is nie, sal jy nie in die wegraping geneem word nie en dit is ‘n feit!
Baie mense dink dat hulle gereed is, maar hulle is nie werklik gereed nie en dis waarom so min geneem gaan word. Dis ‘n moeilike keuse om te maak, want ek is lief vir my vrou soos julle ook is en ek weet dat julle ook lief is vir julle mans en julle kinders, maar onthou Jesus se woorde. As jy hierdie mense bo Hom lief het, dan is jy Hom nie waardig nie…
Vir die wat getroud is; die oomblik as daardie basuin blaas, gaan jou huwelik ongedaan wees. Die vriendskap wat daar bestaan het tussen jou en jou man of jou vrou gaan bly voortbestaan, maar die huwelik gaan nie meer aanhou bestaan nie, want soos Jesus in Mattheus 22:30 gesê het trou mense nie meer of word hulle ook nie in die huwelik uitgegee in die Hemel soos op die Aarde nie. Die huwelik wat jy nou het gaan dus nie meer bestaan nie.
Die vraag wat ek nou wil vra met alles wat ek vooraf gesê het ingedagte, is of jy bereid is om jou man, jou vrou en jou kinders agter te laat vir Jesus op die dag van die wegraping. Dis die prys wat jy gaan moet betaal en die koste om geneem te kan word. Net jy sal daardie vraag kan beantwoord, maar dis een wat jy baie mooi oor moet gaan dink.
Jesus moet nommer een in ons lewens wees en op daardie dag gaan jy Hom moet kies bo alles as jou nommer een. Slegs dan gaan jy ten volle gereed wees.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Naam!
