Soos ons tyd op Aarde minder word, kan mens aanvoel dat Jesus ons gewetes skerper maak en kan ons aanvoel as ons vir Jesus seermaak.
Jesus het ‘n hart wat ongelooflik suiwer en sag is en ons maak Hom ongelooflik baie seer met hierdie sogenaamde “klein” sondetjies wat ons doen. Vir ons mag hierdie klein sondetjies niksseggend wees, maar vir Jesus is selfs die kleinste sonde so groot soos ‘n berg. Onthou, dat gif bly gif, maak nie saak of dit in ‘n klein botteltjie of in ‘n groot bottel kom nie. Die gif in die groot bottel is nie meer dodelik as die in die klein botteltjie nie! Dis waarom dit so belangrik is om om vergifnis te vra die oomblik wat ons oortree; sodat Jesus daardie oortreding in die see van genade kan verdrink om so nooit weer daaraan te dink nie.
Daar is baie wat nog gedoen moet word voor daardie dag aanbreek, maar dis uiters belangrik dat ons nie moedeloos word nie. Hou jou oë op Jesus, maar nie net jou oë nie, maar ook jou hele hart, verstand en gees. Die uiters belangrik dat ons en Jesus dieselfde oor dinge dink, maar ons sal dit nie op ons eie kan doen nie. Ons moet bid vir genade en vir Jesus vra om ons toerus om elke skelmstreek van satan die hoof te kan bied. Satan is so slinks en die versoeking kom op tye wat jy dit nie verwag nie!
Ons moet alles wat ons het met geloof in die hande van Jesus sit, wetende dat niks daarmee sal gebeur nie. Hier wil ek myself net vir so ‘n klein bietjie onderbreek, want om enige probleem in die hande van Jesus te sit en dit daar te los is uiters moeilik! Ek weet, want ek was ook al daar! Ek kan julle verseker dat dit uiters baie inspanning vat om Jesus op daardie manier te vertrou, met alles, maar ek kan julle verseker dat as jy dit doen, jy NOOIT WEER ‘n bekommernis in jou lewe sal hê nie! Ek kan vir julle getuienis op getuienis van persoonlike ondervinding vertel, maar dan gaan ek hierdie boodskap baie moet uitrek!
Nodeloos om te sê, dit was baie moeilik vir my, maar ek is bly ek het dit gedoen en ek kan nie vir julle beskryf die vryheid wat ek nou het nie. Prys die Naam van Jesus! Ek weet my geliefdes is altyd veilig, selfs al moet hulle deur besige verkeer elke oggend ry. Ek is glad nie bekommerd oor hulle nie, want ek weet dat Jesus vir hulle sal sorg. Ek is ook glad nie meer besorg oor my finansies nie, want ek weet dat Jesus sal sorg en ek kan julle verseker dat daardie versekering kan geen geld op aarde koop nie! Dankie JESUS!
Onthou dat die vyand alles in sy vermoë gaan doen om ons tot ‘n val te bring. Hy gaan selfs die liefde wat jy vir jou naasbestaandes het, teen jou gebruik om jou van Jesus af weg te lok, dis waarom dit so belangrik is dat jy alles vir Jesus gee. Ek bedoel alles, ook jou besittings wat jy het. Plaas alles in die hande van Jesus. Jesus sal vir alles sorg, selfs beter as wat ons kan! Dis nou die tyd om doelbewus doelgerig te wees of soos hulle in Engels sê: “one track minded!”
Gaan voort met jou daaglikse werk, maar pasop om nie in enige projekte vasgevang te word nie. Gehoorsaamheid aan Jesus is uiters belangrik. ‘n Persoonlike verhouding met Jesus is nie meer goed genoeg nie. Ons moet meer kwaliteit tyd spandeer in gebed. Onthou dat gebed nie net beperk is tot die stiltetyd in die kamer nie. Jy kan enige tyd en enige plek bid, tot wanneer jy werk, motor bestuur en iewers heen loop. Praat met Jesus regdeur die dag. Vertel Hom wat jy doen en wat jy beplan om te doen. As ek alleen in my motor ry of langs die pad loop, dan praat ek op my lekkerste met Jesus. Ek het agtergekom dat as jy dit doen, dan kan satan jou glad nie aanval nie!
Onthou, die tyd het gekom dat ons nie meer Jesus se diensknegte is nie, want ‘n dienskneg weet nie wat sy meester doen nie. Ons weet egter wat ons meester doen, daarom noem Jesus ons nou vriende!
Hoe meer tyd jy met iemand spandeer, hoe beter leer jy daardie persoon ken. Jy begin weet waarvan daardie persoon hou en nie hou nie. Jesus roep ons nou vir ‘n hoër roeping. Binnekort gaan ons op ons ewige reis, die reis van die ewige lewe, as JESUS se Bruid! Ons gaan onafskeidbaar wees van Hom. Vir altyd EEN!
Kom ons begin nou in alle erns, want Jesus wil elke oomblik saam met ons spandeer. Jesus wil saam met ons droom, beplan en feesvier! Hy wil saam met ons ons daaglikse take afhandel. Saam met ons elke verantwoordelikheid wat ons teenoor ander het, afhandel. Ons lewens gaan verander word, want ons gaan saam beweeg, saam dink en saam leef as een.
Jesus se hande het die Hemel en die Aarde gemaak. Wanneer Hy bevel gee, gaan die Hemel vir ons open. Hy gee aan elke een van ons nou ‘n nuwe lewe totdat Hy in glorie gaan kom om ons te kom haal! Prys Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!