Leiers van Blindes

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Een van my lesers het vir my iets gestuur wat hulle op Facebook gevind het wat ek net met julle moet deel.

Dis ‘n boodskap wat in ‘n Christen Groep op Facebook gepos was deur ‘n leraar waarin hy uitvaar teen die lede van die kerk wat aan die wegraping glo soos ons. Dit wil sê ‘n wegraping voor die begin van die verdrukking. Volgens hierdie persoon word 80% van die kerk van God mislei deur ‘n leuen en dat ‘n wegraping voor die verdrukking glad nie deur die Bybel ondersteun word nie. Volgens hierdie persoon gaan daar net een wegraping wees en dit gaan gebeur aan die einde van die verdrukking soos in Openbaring beskryf. Hy erken die feit dat ons in die laaste dae leef, maar dat Jesus laat is. Volgens hierdie persoon moet ons ons oë uit die wolke uithaal en ‘n slag die waarheid sien…

Soos ek al baie hieroor geskryf het, kom die woord “wegraping” nie in ons Bybel voor nie. Dit is wel opgeteken in die oorspronklike Griekse geskrifte, maar die woord is uitgelaat in die vertalings daarvan. Ons weet nie waarom nie. Die konsep van die wegraping word wel aan ons verduidelik. (1 Tessalonisense 4:13-18) Op soortgelyke wyse kom die woord “Drie Enige God” ook nie in ons Bybel voor nie, maar tog glo is daarin omdat die konsep daarvan aan ons verduidelik word net soos die konsep van die wegraping.

God se Woord kom in twee dele: daar is die Logos Woord wat die geskrewe Bybel is en dan is daar die Rhema Woord wat die openbaring van die Gees van die Waarheid is. Jesus het in Johannes 16:12-13 gesê dat Hy die Gees van die Waarheid (Heilige Gees) sal stuur om ons in die hele waarheid te lei en dis hoe ons die waarheid sal weet. Om die Bybel te kan verstaan moet ons God se Logos Woord en Sy Rhema Woord saam gebruik. Die Logos Woord is een helfte van die waarheid, maar die Rhema Woord is die ander helfte en saam vorm hulle ‘n eenheid soos ‘n perd en ‘n ruiter. ‘n Perd op sy eie beteken niks, maar sit ‘n ruiter op sy rug en kyk dan wat daardie perd van vermag! God se Logos en Sy Rhema Woord is dieselfde.

Hierdie persoon erken wel die feit dat 80% van die kerk in ‘n wegraping voor die verdrukking glo en dit behoort klaar vir hom ‘n rooi gevaar lig te wees wat flikker. Julle weet; as 80% van die mense sê dat die lug blou is en ek is een van die 20% wat sê dat die lug pienk is, dan gaan ek darem begin wonder of ek nie dalk verkeerd is nie! Verstaan julle?

Liewe lesers, ek verkondig die waarheid as ek sê dat daar ‘n wegraping gaan wees voor die verdrukking, want soos julle weet is die verdrukking niks anders as God se wraak oor ‘n wêreld wat weier om hom te erken nie. Soos Paulus vir ons verduidelik in Romeine 5:9, Romeine 8:1 en in 1 Tessalonisense 5:9, kom God se oordeel ons nie toe nie. Ons wat saligheid verkry het deur Jesus Christus. Waarom sal God se Woord dan sê dat Sy oordeel ons nie bestem is nie as ons dan saam met die sondaars geoordeel gaan word? Ek weier om te glo dat ons bestem is om saam met die sondaars geoordeel te word en dis waarom ek aan die wegraping glo! God is nie ‘n mens wat in Sy eie Woord sal lieg nie!

Ek gaan afsluit met die volgende twee gedeeltes uit 2 Petrus 3 soos deur die Gees geopenbaar. Dit is verbasend hoe hierdie gedeeltes vandag almal waar geword het!

“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:3-4 )

“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Petrus 3:9)

Ek wil nie hê dat julle nou moet gaan en hierdie mense met geweld probeer oortuig nie. Jesus se dissipels wou dit ook doen en dis waarom Jesus in Mattheus 15:14 vir hulle gesê het: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal al twee in die sloot val.” Oortuig die wat oortuig kan word, maar laat die wat nie wil luister nie in die hande van die HERE.

Die van julle wat graag meer wil weet oor die waarheid agter die wegraping kan gerus my boodskap op hierdie skakel gaan lees: Die Waarheid oor die Wegraping. Alles wat julle wil weet en nog meer is daarin opgeteken.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk
Tagged , , , , , , .