Leef heilig vir Jesus

Vandag se boodskap van die HERE kom uit Kolossense 3 waar daar aan ons gewys word hoe belangrik heiligmaking is.

Paulus begin sy boodskap deur te sê dat as geredde Kinders van God, behoort ons die dinge van God te soek en nie die dinge van die wêreld nie. Ons is saam met Christus gekruisig en daarom behoort ons dood te wees vir die wêreld en net vir God te lewe. Wanneer Christus dan geopenbaar gaan word dan gaan ons ook saam met Hom geopenbaar word omdat ons in Hom is.

Om daardie rede moet ons dood wees vir die begeertes van die wêreld, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes, gierigheid en wat afgodediens is, want dis deur hierdie dinge dat God Sy toorn oor hierdie wêreld gaan uitstort. Enige iemand wat deel het aan hierdie sonde kan nie in die wegraping geneem word nie. Daarmee saam moet ons ook aflê toorn, woede, boosheid, laster en skandelike taal uit ons monde. Lieg nie vir mekaar nie, omdat ons die ou mens met sy bose werke afgelê het en nou ‘n nuwe skepsel is deur Jesus Christus! AMEN!

As Kinders van die Een Ware Lewende God moet ons onsself beklee met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Ons moet mekaar se swakhede verdra en mekaar vergewe as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus ons vergeef het toe ons nog sondaars was en Hom nie geken het nie.

Ons moet ons met naasteliefde beklee wat die band tot volmaaktheid is en baie swakhede vergewe! Prys die Naam van Jesus! Laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. (Kolossense 3:16) Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 46 times, 1 visits today)
Tagged , , , .