So ‘n paar jaar gelde het ek ‘n gedeelte geskryf oor Lucifer – ons groot teenstander, maar na aanleiding van my reeks oor ons geveg met sonde, dink ek dis baie beslis tyd dat ek hierdie gedeelte hersien.
Lucifer was een van God se Aartsengele; daar was drie gewees: Engel Gabriel, Engel Michael en dan Engel Lucifer. Hierdie engele het elkeen ‘n derde van God se engele onder hulle beheer gehad. Lucifer het verskeie name, maar die Bybel noem hom satan, duiwel en die groot draak.
Lucifer is deur God geskape soos in Esegiël 28:15 genoem word: “Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.” Net soos Adam, was Lucifer geskape as volwassene en het hy geen kinderjare beleef nie.
Lucifer was volgens Esegiël 28:12 een van die mooiste engele in die Koninkryk van God: “… Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.” Lucifer se kleed was volgens Esegiël 28:13 oortrek met edelgesteentes: “…allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.” Lucifer se opdrag volgens Esegiël 28:14 was om God se glorie te beskerm: “Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.”
Lucifer was dus ‘n engel wat alles gehad het, maar volgens Jesaja 14:13-14 was bedrog in sy hart gevind en wou hy hom gelykstel aan God: “[13] En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. [14] Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” As gevolg van Lucifer se poging om hom aan God gelyk te stel, is hy volgens Esegiël 28:16 uit die hemel uitgewerp: “Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!” Volgens Jesaja 14:12 het God hom tot op die aarde neergewerp: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!” Die derde van die engele wat onder Lucifer se bevel gedien het, is ook op die aarde neergewerp. Dit sien ons in Openbaring 12:4 “… en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi.”
Esegiël 28:17 sê vir ons dat Lucifer se hoogmoed oor sy skoonheid gelei het tot sy val en dat dit die oorsaak was dat sy wysheid verdorwe geword het: “Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.”
En hier is waar die konflik begin het, want in die plek van Lucifer en sy engele het God besluit om mense te skape. Die mens is geskape volgens die ewebeeld van God en alles wat eens op ‘n tyd Lucifer s’n was, is aan die mens gegee. Dit het hom bitter jaloers gemaak en dis waarom Lucifer alles in sy mag sal doen om God se plan vir die mens te laat skipbreuk lei.
Lucifer of te wel satan stel nie belang is jou as persoon, jou drome of jou groei as mens nie. Vir hom is jy niks anders as kanonvoer nie; ‘n doel tot ‘n middel. Dis ‘n oorlog om die siel van die mens en elkeen van ons moet die keuse maak watter rigting elkeen van ons wil gaan en ek kan julle verseker dat elke mens op hierdie aarde ten minste een kans kry om die regte besluit te maak.
Dis ook die rede waarom sonde so lekker is om te pleeg, want dis ‘n illusie wat satan gebruik om ons in sy wip te vang. Satan gebruik alles wat jou ‘n mens maak; jou drome en jou begeertes teen jou om jou sover te kry om te sondig teen God. Maar omdat alles wat jy in terme van sonde sien is ‘n illusie is, kom hierdie illusie sonder enige seremonie tot ‘n einde die dag as jy sterwe. Dan sien jy die werklikheid en dan begin die geween en die gekners van tande!
In 1 Petrus 5:8 word ons waarsku om op ons hoede te wees vir satan: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Wees dus op jou hoede, want volgens 1 Korintiërs 3:3 is satan se gunsteling manier van aanval om ons in die vlees aan te val: “…omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”
Moet nooit, onder enige omstandighede dink dat satan dom is nie. Hy weet maar net te goed dat hy die oorlog teen God nie kan wen nie, daarom probeer hy so veel mense as wat hy kan saam met hom te vat na sy ewige tronk toe. In Esegiël 28:19 lees ons: “maar jý is gewerp, ver van jou graf, soos ’n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas.” Judas 1:6-7 beklemtoon hierdie feit verder deur te sê dat die engele wat vir Lucifer ondersteun het in sy lot sal deel: “[6] En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; [7] soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” In Openbaring 20:10 lees ons wat Lucifer se finale oordeel sal wees: “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Net soos God ken Lucifer die mens ten volle; daarom ken hy ons beter as wat ons onsself ken en daarom weet hy presies hoe om ons aan te val. Lucifer is ook nie haastig nie. Hy sal net die saadjie plant en dit dan los dat jy self die plantjie laat groei. Alles wat Lucifer jou vertel is leuens, maar dit is so gekonstrueer dat dit baie naby aan die waarheid lyk. Net deur in die Gees te leef met die Heilige Gees aan jou kant sal jy die vermoë hê om deur die leun te sien.
Mag die Here hierdie boodskap seën.