Wees die verskil in mense se lewens

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hoe baie keer het ons nie gewonder waarom Jesus sekere dinge oor ons lewens toelaat nie en dan wil ons met God baklei daaroor…

Julle weet, ek was ook al daar… Ek was al bitter kwaad vir Jesus oor die dinge wat hy toegelaat het met my gebeur en ek het dit vir Hom ook so gesê. Vandag weet ek dat dit menslike swakheid is wat ons so laat uitroep en ons doen dit omdat ons nie kan sien wat God besig is om in ons lewens te doen nie. Ons sien nie die wonderlike getuienis wat God besig is om vir ons te gee nie; ‘n getuienis wat mense gaan opbou in die toekoms en mense hoop gaan gee. Ons sien ook nie hoe God besig is om ons te vorm vir die ewigheid nie en in die proses van ons beter mense te maak nie…

Ek kan julle verseker dat dit in die tyd van die Bybel ook net so was en ons sien dit in Handelinge 8 net na die dood van Stefanus. Saulus het gekom en die gemeente verwoes. Hy het manne en vroue uit huise uitgesleep en in die gevangenis laat sit omdat hulle Christene was. Ek kan julle verseker dat daar baie was wat uitgeroep het: “Waarom HERE? Waarom laat U hierdie dinge gebeur?”

Dis belangrik om te weet dat tot en met die tyd van hierdie vervolging, die Evangelie beperk was tot Jerusalem, maar nou het alles skielik verander. Mense het vir hulle lewens gevlug en hulle het die boodskap van die Evangelie saam met hulle gevat! Satan wat deur Saulus gewerk het, het gedink dat hy besig was om alles wat Jesus op aarde gedoen het te vernietig, maar eintlik het hy ‘n belangrike rol gespeel om die Evangelie te versprei sonder dat hy dit besef het!

So het Filippus in een van hierdie Samaritaanse stede aangekom en dadelik begin om die Woord van God te verkondig. Die mense het eendragtig geluister en so is baie onreine geeste uitgedryf en siekes gesond gemaak! Die Woord sê vir ons verder dat daar groot blydskap in daardie stad was oor al die wonderwerke wat daar plaasgevind het! Wonderwerke wat nooit sou gebeur het as dit nie vir die hulp van satan en Saulus se bereidwilligheid was nie!

Soos julle kan sien, verstaan ons nie altyd wat besig is om in ons lewens te gebeur nie, maar as ons bereid is om Jesus se hand te vat en te sê: “Jesus, lei my waarheen U wil hê ek moet gaan” in plaas daarvan om ons eie pad te wil volg, dan begin God in ons lewens te werk. Maak nie saak wat daarna gebeur nie, ons weet dat daar ‘n doel in is, selfs al sien ons daardie doel nie dadelik raak nie.

Twintig jaar gelede het Jesus toegelaat dat daar dinge oor my lewe kom wat gemaak het dat ek bedank het uit die polisie uit. Ek het ‘n beroep met ‘n vaste salaris vaarwel toegeroep vir een waar ek vandag nie seker is of ek die einde van die maand genoeg geld gaan hê om my deur die maand te vat nie. Om vir jouself te werk is nie die maanskyn en rose wat almal dit uitmaak om te wees nie. Een maand maak jy so baie geld dat jy nie weet wat om met alles te doen nie en die volgende paar maande is daar letterlik niks! Ten spyte van alles het ek in die afgelope twintig jaar nog nie een maand te min gehad nie! Bitter selde is daar geld vir luukshede, maar daar is altyd geld om alles te betaal wat betaal moet word! Prys die Naam van die HERE!

Ek het al baie gewonder wat sou gebeur het as ek in die polisie gebly het… Ja, ek sou ‘n vaste salaris gehad het en ek sou tien teen een alles kom koop wat my hart begeer het, maar waar sou Suider Kruis gewees het? Waar sou al die siele wat ek in die twintig jaar ontmoet het en wat ek op die regte pad gehelp het gewees het? Julle sien, alles in ons lewens gebeur met ‘n doel. Ons sien nie altyd daardie doel raak nie, maar daar is ‘n rede agter alles wat met ons gebeur.

Kyk net waar is ons vandag: ons het ‘n gemeente waar mense mekaar aanmoedig en versterk. Ons het ‘n webruimte en ‘n nuusbrief. Ons het twee groepe op Watsapp en Telegram en ons het ‘n bladsy op Facebook; alles wat gebruik word om die Woord van God te verkondig net soos Hy ons beveel het om te doen! Is Jesus nie wonderlik nie?

Ons kyk baie keer so baie terug in die verlede en verlang na die vleispotte van Egipte dat ons nie die groot dinge sien wat God reg voor ons oë doen nie! Konsentreer daarom op die goeie, selfs al kan jy op die oomblik geen goed sien in wat gebeur nie. Weet dat Jesus ‘n doel het en dat daardie doel in tyd aan jou bekend sal raak as jy geduldig is.

Iemand het eenslag gesê dat daar ‘n rede is waarom ‘n motor so ‘n groot voorruit het terwyl die spieëls wat terugkyk so klein is. Dis omdat dit wat voor jou gebeur, baie belangriker is as dit wat agter jou aangaan! Daarom, liewe leser, vat Jesus se hand en laat Hy jou lei waar Hy jou wil hê. Hou op om jou eie ding te wil doen en jy gaan verbaas staan oor hoe ‘n groot verskil jy in mense se lewens kan maak.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 116 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .