Ek vind dit skokkend om te sien hoe alles uitmekaar val… Bedrog, korrupsie, diefstal… en die ergste is dat die wat hulle daarmee besig hou niks daarmee verkeerd sien nie! Alles is so deurmekaar… Wat reg is, is nou verkeerd en wat verkeerd was, is nou reg… Dit laat ‘n mens se kop draai!
Ten spyte van alles is daar een steunpilaar waarop ons kan staat maak terwyl ons vir God se perfekte tyd wag om ons te kom haal en dit is Jesus se onwrikbare liefde vir ons. Onthou, dat Jesus nie kyk na wie jy is, hoe jy lyk of waar jy vandaan kom nie. Dis dinge wat vir God nie belangrik is nie. Wat belangrik is, is dat ons op ons knieë afsak en vergifnis vra vir ons tekortkominge. Ek gaan vir julle ‘n storie vertel.
‘n Bedelaar het eendag ‘n prokureur op straat voorgekeer en vir hom R5 gevra. Die prokureur het lank na die vuil en ongeskeerde bedelaar gekyk en toe vra hy:
“Vanwaar ken ek jou?”
“Ons was klasmaats op die tweede vloer van die ou hoofgebou,” antwoord die bedelaar.
“Sam, nou onthou ek jou!” sê die prokureur en sonder om enige verdere vrae te vra, skryf hy vir die bedelaar ‘n tjek van R1000 uit en sê: “Ek gee nie om wat in jou verlede gebeur het nie. Dit is jou toekoms wat belangrik is,” en met dié woorde stap die prokureur aan.
Met trane van blydskap stap die bedelaar bank toe, maar voor die bank steek hy vas – dit is so skoon daar binne en die tellers is so netjies! Met my vuil toiings sal hulle oortuig wees ek oorhandig aan hulle ‘n vervalste tjek, dink Sam en draai net daar om.
Die volgende dag loop die prokureur weer vir Sam raak en hy sien dat dié nog steeds so gehawend daar uitsien.
“Wat het jy met my tjek gedoen? Het jy dit uit gedobbel of uitgesuip?”
Terwyl die bedelaar die tjek uit sy vuil hempsak te voorskyn haal, vertel hy die prokureur waarom hy dit nie kon gaan wissel nie.
“Luister, my vriend, wat die tjek wettig maak, is nie jou klere of jou voorkoms nie, maar my handtekening daarop. Gaan wissel onmiddellik die tjek!”
Die storie spreek vanself. Hoe baie van ons staan nie met God se reddende genade in ons hande nie, maar ons is te bang om af te kniel, omdat ons bang is dat die HERE gaan sien net hoe vuil en vol sonde ons is… Ons vergeet egter dat Jesus reeds die prys betaal het vir alles wat ons moontlik verkeerd kon gedoen het. Sy bloed wat op Golgota gevloei het is wat die kontrak wettig maak! Hoe jy lyk en hoe vol sonde jy is het niks daarmee te doen nie!
Jesus staan met sy arms oop en wag vir jou. By Hom is vergifnis vir sondes en die ewige lewe as beloning vir die wat glo, maar u moet die eerste stap neem. U dink miskien dat u sonde so baie is en dat die HERE sy rug op u sal draai as u af kniel, maar dit is nie waar nie. Dis satan wat hierdie leuen aan jou vertel! Moenie dit glo nie! Jesus is lief vir jou net soos jou is en Hy wag geduldig vir jou. Doen dus nou die regte ding en keer terug na die skepper.
Vir die van u wat reeds gered is en wie se kleed intussen vuil geraak het; u kan dit weer en weer gaan was in Jesus bloed. U hoef nie bang te wees dat die Here vir u kwaad gaan wees nie. U sal nooit Jesus se reddende genade kan opgebruik nie! Vir ons as mens is dit nie moontlik nie!
Gaan nou af op jou knieë en gaan vra vergifnis. Dis nog nie te laat nie!
Prys die Naam van die HEER!