Ons is almal mens met swakhede en daarom moet dit glad nie verbasend as ons van tyd tot tyd bang raak nie.
Ek raak ook soms bang, veral as ek sien waarheen hierdie wêreld op pad is en dit kom voor asof die wêreld salig onbewus is van wat aangaan… Ek raak ook bang omdat ek die oordeel van die HERE vrees en ek weet dat Hy een of ander tyd Sy woede op hierdie wêreld gaan uitstort. Ek is bevrees dat daardie dag nader is as wat ons almal besef.
Met hierdie ingedagte, kan ek my net indink wat Daniël en sy vriende Sadrag, Mesag en Abednego moes gedink het toe Koning Nebukadneser sy groot standbeeld laat bou het en almal beveel het om voor die beeld neer te val en dit te aanbid. (Daniël 3) Want as iemand dit nie doen nie, sal daardie persoon in die brandende vuuroond gegooi word! Vuur moet seker een van die mees pynlikste maniere wees om te sterf en hier staan drie vriende en hulle weier om neer te val en die beeld te aanbid!
Ons lees verder dat die koning so kwaad geword het vir die drie dat hy beveel het dat die oond sewe keer warmer gemaak moet word as wat nodig was. Die oond was so warm dat die manne wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond moes gooi, self doodgebrand het!
Maar kyk net wat doen ons geliefde; die Koning van die Konings! Die vlamme het vir Sadrag, Mesag en Abednego geen skade aangerig nie! Die koning was so verbaas en hy het sy raadsmanne geraadpleeg en gevra of hulle dan nie drie mense in die oond gegooi het nie, want daar het dan nou ‘n vierde bygekom! Wie is hierdie vierde persoon en waar kom Hy vandaan?
Die koning het na Sadrag, Mesag en Abednego geroep en hulle gevra om uit die vuur uit te kom en hulle het. Die Bybel sê vir ons dat hulle geheel en al ongeskonde was en dat selfs die reuk van die vuur nie aan hulle was nie! Prys die Naam van Jesus!
As die HERE wat ons dien, dit kan doen, wat dink jy liewe leser, beteken die probleme wat jy ondervind vir Jesus? Absoluut niks!
Waarom dan het ons probleme hier op aarde? Omdat Jesus dit toelaat en Hy laat dit toe om ons te slyp en ons te snoei sodat ons gereed moet wees vir die dag as Hy gaan kom om ons te kom haal.
Julle weet, ek het al saam met baie moeilike mense in my loopbaan gewerk en by elkeen van hulle het ek iets geleer; selfs al was dit net hoe om nederig te wees. Jesus gebruik hierdie mense en Hy gebruik ook die omstandighede in jou lewe om vir jou sagmoedigheid en geduld te leer. Hy leer ons ook dat ons niks in hierdie lewe nodig het behalwe vir Hom nie! Ons gaan eendag hierdie wêreld saam met Jesus regeer en as ons nou nie leer wat selfbeheersing, geduld, sagmoedigheid en medelye is nie, dan gaan ons die taak waarvoor Jesus ons wil gebruik nie kan doen nie. Daar is dus ‘n rede waarom dit wat nou met jou gebeur besig is om te gebeur! Ons kan maar net nie die rede nou al sien nie.
Al wat ons kan doen is om te vertrou op Jesus met alles wat ons het en te weet dat selfs ‘n haar nie van ons hoofde sal val sonder die uitdruklike toestemming van Jesus nie. (Lukas 12:22-34) Binnekort gaan daar gebeure oor hierdie wêreld kom wat mense tot in hulle siele gaan skok. Baie gaan hulle geloof bevraagteken en ander gaan weer vir Jesus totsiens toeroep. Ek weet dat daar van julle is wat nou soos Petrus sê: “Nooit in der ewigheid nie!”
Ons almal se gelowe gaan getoets word. Hou vas aan dit wat jy glo en hou vas met alles wat jy het. Die Bybel sê dat hy wat uithou tot die einde toe, gered sal word!
Prys die Naam van Jesus!