Ek kan nie genoeg beklemtoon dat niemand weet wanneer die wegraping gaan kom nie, selfs nie eers Jesus nie, maar net God die Vader weet.
Wat ek egter kan bevestig is dat ons op die rand van die afgrond is. Baie van julle sal dit seker al aangevoel het. Dit gaan nou nie meer lank wees voor God die Vader gaan sê dat daar genoeg gewag is nie. Ek wil oorbeklemtoon dat ons regtig ernstig met die HERE moet word, juis omdat ons nie presies weet wanneer die wegraping gaan kom nie. Daar is nie meer tyd vir Godsdiens speel nie!
Ons moet ook nie angstig word oor dit wat binnekort moet gebeur en toelaat dat dit die oorhand oor ons kry nie. Moet ook nie bekommerd wees of jy gevat gaan word of nie. Al wat jy moet doen is om op die HERE en Sy genade te vertrou, want dit gaan nie daaroor om perfek te wees nie, maar om perfekte sonde belydenis en naasteliefde. Solank as wat jy sorg dat jou sonde bely word en jy ‘n poging aanwend om dit nie meer te doen nie dan sal jy amper daar wees. Koppel dit aan jou liefde vir jou naaste en jy sal gereed wees om vir Jesus in die wolke te ontmoet!
As jy nie gereed is nie, gaan jou lot verseël wees in daardie tyd. Dit wat binnekort gaan gebeur gaan in een woord verskriklik wees. Mense gaan beswyk van vrees en daar gaan onvermybare skeidings kom waar mense van hulle geliefdes geskei gaan word. Dis op hierdie tyd wat jy aan Jesus moet vashou met alles wat jy het. Tot dan toe, bid saam met mekaar, maar as die gebeure begin, bid dan vir mekaar en hou vas aan Jesus soos Hy ons vashou. Die stormwind oor hierdie aarde gaan sterk waai, maar in die arms van Jesus gaan dit ‘n ligte briesie wees. Dis dan wanneer jy nie vir ‘n oomblik jou konsentrasie moet verloor en op enige ander plek moet kyk as net na Jesus nie. Die HERE sal ons in Sy vrede hou, maar net as ons op die Hom alleen vertrou.
Baie van ons is geneig om na mekaar te hardloop as daar gevaar is, maar nou vra Jesus dat ons na Hom toe hardloop, want ons mag onsself op ‘n plek bevind waar ons nie met enige iemand kan kommunikeer nie. Moenie bekommerd wees nie, want Jesus is altyd daar wanneer ons Hom nodig het, sonder uitsondering. Die HERE is alomteenwoordig en niks gaan ons van Hom af wegneem of skei in hierdie tyd nie. Onthou dat wat ook al gebeur sal baie gou vir ons oor en verby wees. Onthou dat Jesus in beheer is en dat nie eers ‘n mossie op die grond dood neerval sonder dat Jesus daarvan weet nie.
Die gebeurtenisse wat moet kom word al baie lank reeds voorspel. Die waarskuwings boodskappe om gereed te wees word ook al hoe meer intens en meer gereeld. Binnekort gaan ons ons belonings ontvang en dan gaan ons verstaan waarom elke toets wat ons mee te doen gekry het, daar was en waarom dit moes gebeur het. Tot dan toe, hou vas aan Jesus. Bid vir jou geliefdes en dra die boodskap van Jesus uit, selfs al glo mense jou nie. Die gewag gaan binnekort verby wees.
Ek gaan afsluit met ‘n gedeelte soos in Maleagi 3:1 opgeteken: “…Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. “
Prys die Naam van Jesus!