Om die vyand uit te oorlê

Jesus roep ons vandag om op ons hoede te wees en onsself skoon te hou, want die vyand werk oortyd om onmin tussen ons te saai.

Huwelike word aangeval, verhoudings word aangeval en so ook die vriendskappe en verhoudings met die wat jy goed ken. Daar is ‘n gees van verdeeldheid aan die werk en sy werk is om te isoleer, te steel, te skend en te verwoes in hierdie laaste oomblikke.

Hierdie mag van verdeeldheid is besig om nou tussen ons te werk. Julle sal agterkom dat mense met wie jy nog altyd baie goed oor die weg gekom het, jou skielik vyandig gesind is en openlik loop en moeilikheid soek met jou. Dit maak nie saak of dit man en vrou, broers en susters of werkgewers en werknemers is nie; almal loop deur. Hierdie demoon se doel is om die verhouding tot stilstand te bring en daardeur die ondersteuning wat in die verhouding is te laat skipbreuk lei.

Baie van julle het seker gevoel hoe julle bloeddruk styg as gevolg van dinge wat gesê word, maar Jesus vra dat ons asseblief moet versigtig wees wat ons dink en sê. Ons eerste reaksies is om weg te trek en die persoon sommer goed op sy plek te sit met ‘n vloedgolf van kleurvolle metafore, maar dis presies wat die vyand wil hê jy moet doen! Hy wil hê dat jy gemene taktiek moet gebruik en in ‘n oomblik van trots jouself te wreek. As jy gaan optree in sulke gevalle, dan gaan jy nie reg van verkeerd kan onderskei nie en dis uiters gevaarlik! Jou oorlewing hang af van die om jou en wanneer jy hulle seermaak, dan maak jy jouself seer.

Jesus het ons in hierdie verhoudings gesit om mekaar te versterk. Wanneer jy dus uitvaar teen die om jou maak jy nie net hulle seer nie, maar ook jouself in die proses. Dit wat jy aan ander doen is baie meer skadelik aan jouself as aan hulle en daarmee saam onderstreep jy jou gebrek aan naasteliefde. Satan weet dit en dis waarom hy jou so aanval.

Wanneer siele oopmaak teenoor mekaar, word daar ‘n verbond gesluit wat gebou word in vertroue. Dit is ons as Kinders van Jesus se plig om daardie verbond te beskerm met alles wat ons het deur te weier om daardie persoon seer te maak. Jy maak net jouself in die lange duur seer en jy plaas jouself in ernstige gevaar deur na die voorstelle van die vyand te luister. Tensy jy om vergifnis gaan vra, verlaag jy jouself en maak jy jouself geestelik swakker.

Julle sien, satan val ons aan deur die klein dingetjies: klein bietjie verraad hier en ‘n klein bietjie oneerlikheid daar. Hy sal jou bietjie vir bietjie al hoe dieper intrek totdat jy heeltemal gebreklik loop. Dis waarom die demone so lelik is. Hulle voorkoms wys op die kwaad van hulle dade. Na eeue van kwaad doen is hulle nou verskriklik vervorm en gebreklik. As jy ingee en op die dinge wat ander sê reageer in plaas daarvan om hulle te vergewe, word jy geestelik ook net so vervorm en gebreklik. Dis waarom Jesus op die kruis gesterf het, om alle gebreklikheid te genees en wanneer iemand vergifnis te kom vra, dan word daardie gebreklikheid genees.

As jy eenkeer vir die vyand ingee, dan word jy geestelik swakker en word dit die volgende keer makliker om jou oortredinge te regverdig. Maar as jy die vyand weerstaan van die begin af, dan word jy sterker! Maak nie saak wat mense van jou sê nie; bly stil en weerstaan vir satan!

Die keuse is geheel en al joune om te maak, maar Jesus waarsku ons vooraf omdat Hy weet hoe hierdie dinge ons en die om ons kan raak. Jesus se wil is vir ons is om heilig te lewe, maar as jy eers eenmaal na demone geluister het sal hulle aanhou om jou in die put af te trek totdat jy verby die punt is waar vergifnis moontlik is. Dan bly net die hel vir jou oor.

Onthou: dit gaan nie daaroor oor hoeveel keer ander jou seergemaak het nie. Wanneer jy die pad van vergelding loop, verloor jy jou lig. Sout wat laf geword het, het geen doel behalwe om buite gegooi te word en deur die mense vertrap te word nie. (Mattheus 5:13) As dit gebeur het jy jou plek in die Koningryk van die Hemele verloor.

Jesus het ons in skoonheid en onskuldigheid gemaak, maar ons kan dit verloor deur vrye wil en die keuses wat ons maak. Jesus kan ons vergewe en weer herstel, maar dan moet ons na Hom toe gaan en diep berou oor ons dade toon! Maar as jy verby die punt is waar jy heilig voor Jesus wil wees, dan is jy op pad om diep teleurgestel te word. Jesus sal nie ‘n houer kies wat heilig was, maar daarna gekies het om aan te gaan en sy sondes self te probeer toe lap nie.

Esegiël 33:17-20 [17]  Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die Here is nie reg nie, terwyl tog hulle eie weg nie reg is nie.  [18]  As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sal hy ten gevolge daarvan sterwe.  [19]  En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid en reg en geregtigheid doen, dan sal hy ten gevolge daarvan lewe.  [20]  Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Ek sal julle oordeel, elkeen volgens sy weë, o huis van Israel!”

Hierdie is ‘n waarskuwing, liewe lesers! Die van julle wat op die pad van vernietiging is, draai nou om, voor dit te laat is! Moet hierdie asseblief nie vat as ‘n oordeel nie, maar eerder as ‘n teregwysing. Neem dit as ‘n instruksie wat gaan lei tot ‘n lewe van baie oorvloed, want jy het baie om te verloor as jy nie gehoor gee nie.

Ons is op die laaste oomblikke van hierdie wêreld. Om nou, in hierdie laaste oomblikke, ‘n kompromie met die vyand aan te gaan is die domste ding wat enige iemand kan doen, want jy het ongelooflik baie om te verloor! Ons lewens kan op enige oomblik eindig en ons kan of mooi skoon voor Jesus staan of vuil en gebreklik.

Ons grootste oortreding is om te dink dat Jesus nie sien wat ons doen nie en ook nie sal uitvind nie. Dis dus nie nodig om vergifnis te vra nie, want niemand weet tog nie! ‘n Denkrigting soos die is die toppunt van dwaasheid!

Wees dus versigtig liewe lesers en hou julle bruidsklere skoon!

Ek gaan afsluit met twee verse uit die Woord van God uit:

Spreuke 28:13-14 [13]  Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.  [14]  Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.”

Psalm 32:1-2 [1]  ‘n Psalm van Dawid; ‘n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.  [2]  Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.”

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 271 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , , .