Ons geveg met sonde

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Na aanleiding van my boodskap oor “Waarom laat Jesus toe dat ons so sukkel met sonde” het ek heelwat navrae gekry en vandag wil ek meer hieroor uitbrei.

Ek weet dat daar baie van julle is wat sukkel met sonde en ek weet maar net te goed dat almal van julle baie graag perfek vir Jesus wil wees. Ek is een van hulle en net soos julle, raak ek baie kwaad vir myself as ek struikel en val. Ek verwyt myself omdat ek van beter moes geweet het en dan is ek nie net kwaad omdat ek gestruikel het nie, maar ook omdat ek myself verwyt het!

Julle moet onthou dat ons baie swakker is as wat ons dink ons is en Jesus weet dit maar net te goed. Satan is baie slinkser as wat ons ooit sal besef en hy weet maar net te goed watter knoppies om in elkeen van ons lewens te druk om die regte resultate te verkry. Dis omdat satan, net soos Jesus ons ten volle ken en ons onsself nie ten volle ken nie.

Kom ek bars almal van julle se borrels sommer net hier; jy gaan nooit perfek wees nie en sonde gaan altyd deel van ons almal se lewens wees. Jesus het ons ook nie gemaak om perfek te wees nie, want as ons perfek was, dan sou ons nie vir Jesus in ons lewens nodig gehad het nie. Verstaan julle?

Ons sondige bestaan is deel van die kruis wat jy vir Jesus dra en tot Jesus kom om ons te kom haal en daardie kruis van ons skouers afhaal, gaan daardie kruis baie swaar op ons almal se skouers rus. Maak dus vrede daarmee, want dis God se Wil.

Ek bedoel nou nie dat jy moet sondig so baie soos wat jy kan nie; baie beslis nie! Ek bedoel dat jy nie so hard op jouself moet wees as jy struikel nie en dat jy dadelik na Jesus toe moet teruggaan as jy geval het. Ons sal nooit perfek sonder sonde wees nie, maar ons kan perfek berouvol wees en teruggaan na Jesus toe met elke oortreding wat ons begaan. Satan gaan sy uiterste bes doen om jou te verhoed om na Jesus toe te gaan deur aan jou te vertel hoe teleurgesteld Jesus in jou is of hoe kwaad Jesus vir jou is. Dis alles leuens, want Jesus is nie kwaad of teleurgestel in jou nie!

Hoe baklei ‘n mens dan ‘n oorlog wat jy nie kan wen nie? Jy leer uit jou foute uit en jy leer om die slaggate te vermy. Dis hoe jy wen! As jy ‘n swakplek het vir drank, dan vermy jy die drank. As jy ‘n swakplek met pornografie het, dan vermy jy die boeke en webruimtes wat met daardie goed werk. Dis hoe jy wen!

Dis arrogant om te dink dat jy nooit sal struikel en val nie, ten spyte van jou beste bedoelinge, want eendag gaan een van jou vriende vir jou ‘n vrugtesap gee met ‘n klein bietjie alkohol in of een van jou vriende stuur vir jou ‘n foto van ‘n half kaal vrou en net daar is al jou harde werk ongedaan! Dis hoe satan jou koppies druk! As dit gebeur dat jy val, hardloop dan sonder om te keer na Jesus se arms toe en vra vir vergifnis! Prys die Naam van die HERE!

Waarom werk dit so? Omdat jy nie jou lewe sonder Jesus kan leef nie, dis waarom. Jesus is baie lief vir jou en Hy kan nie sonder jou lewe nie. Daarom sal Hy toelaat dat satan jou versoek net sodat jy nederig kan bly en terugkom na Hom toe. Jesus soek daardie intieme verhouding met jou; ‘n verhouding waar jy vrede gemaak het met jou sonde en Hom heel eerste in jou lewe stel; ‘n lewe waar jy nie op jou eie heiligmaking probeer nastreef sonder Jesus nie. Jesus wil baie graag alles saam met jou doen. Begin julle verstaan?

Dit gaan nie oor die hoeveelheid kere wat jy vir Jesus teleurstel nie, maar dit gaan oor wat jy daarna doen! Prys die Naam van die HEER! Verstaan julle nou waarom ek gesê het dat ons nooit perfek kan wees nie, maar ons kan perfek berouvol wees?

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 95 times, 1 visits today)
Tagged , , , .