In my vorige boodskap het ek stilgestaan by God se Reëls, maar vandag wil ek meer in diepte ingaan oor naasteliefde en die betekenis daarvan.
Soos ek die vorige keer gesê het, word God se reëls vir ons uitgespel in Mattheus 22:37 – 40 “[37] En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. [38] Dit is die eerste en groot gebod. [39] En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. [40] Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Vandag wil ek spesifiek kyk na die tweede gebod; dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself!
Baie van ons, kom die eerste gebod perfek na, maar as dit by die tweede dat baie dinge gemaklik onder die mat ingevee word. Baie is so seker dat hulle gereed is om voor die HERE te kan staan, maar hulle weier om binne in hulleself te kyk soos God na ons kyk.
Dis kommerwekkend vir die HERE dat so baie dink dat hulle is gereed terwyl hulle hul medemens agteraf byt. Hulle skinder en vertel leuens. Hulle beskuldig mense en dink dat dit hulle reg is om so te doen, en tog is hulle so verkeerd! Hulle is blind van selfversekering! Baie is op ‘n tog om die wêreld reg te maak, maar hulle is ongeskik vir die bruilofskleed! Hoe kan die HERE ‘n skoon wit kleed aan iemand trek wat nog steeds jaloers op sy medemens is en ‘n tong het soos ‘n skeermes? Die HERE kan nie ‘n bruilofskleed aan enige iemand trek wat sy medemens nie lief het soos wat hy die HERE liefhet nie.
Baie van julle sal nou sê dat julle nie aan die standaard kan voldoen nie, maar weet dit dat die HERE die wil in jou hart raaksien. Jy kan niks vir Hom wegsteek nie! As jy van jou kant af jou afkeur in jou medemens, jou haat, jou trots en jou jaloersheid laat staan, sal die HERE jou help om die res in te vul! Dit gaan alles oor die wil om reg te doen. Maar as jy opsetlik en aspris betrokke raak by jaloersheid, skinderpraatjies, haat en selfversekering, dan is jy in ernstige moeilikheid. Jy sal nie geskik wees om die bruidskleed te dra nie! Al wat die HERE van ons verlang is om eerlik te wees met onsself. As jy opsetlik afsku en minagting teen jou medemens hou, aspris, sal jy nie voor die HERE staan op daardie dag nie.
In Lukas 21:36 sê Jesus: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
As jy die HERE liefhet, maar jy is nie verbind daartoe om ander net so lief te hê nie, is jy nie waardig om dit wat binnekort op die aarde gaan kom te kan mis nie. Liefde is die toets, nie Bybelse leerstelling of profesie nie, want dit sal alles wegval. Jy mag dalk ‘n profeet wees vol van die Woord van die Here, maar as jy nie die liefde het nie, sal nie saamgaan nie!
Die HERE verwag nie van ons om perfek te wees in denke, woord en daad nie, maar Hy verwag dat ons perfek moet wees in ons voornemens. Ons voornemens om perfek te wees, perfek lief te hê, om ons naaste bo onsself te wil stel, om genadig te wees met die wat ons te na kom en absoluut niks teen ander te hou nie. As jy hierdie voorneme gemaak het, sal jy bly staan en waardig wees, maar as jy aanhou om selfversekerd te wees, vingers na ander te wys, te stry en in God se plek te wil staan om te oordeel, dan sal jy gedoem wees om in die verdrukking agter te bly.
Dis nie die HERE se wil dat enige een van ons moet agterbly nie, maar sommige het hulle harte so verhard dat hulle die onskuldige vertrap. Baie is in ‘n Internet oorlog gewikkel met mekaar. Hulle wond, vermink en los ander om dood te gaan. Hulle isoleer en werp ander uit sonder die vrugte van hulle harde werk. Tensy jy vergifnis vra en regmaak, kan jy maar solank planne maak om hier te bly. Jy sal nie saamgaan nie! Liefde is God se standaard: geduld, genade, nederigheid, vriendelikheid en saligspreking. Dit is die beskrywing van Jesus se Bruid. As jy hierdie dinge nie doen nie verteenwoordig jy nie die HERE nie en dit is die Bruid van Jesus se plig om Hom te verteenwoordig!
Party sal sê dat dit is te hard en gevoelloos, maar die HERE sê vir jou dat jy nog nie van hierdie sondes afstand gedoen het nie, dis waarom jy dit hard en gevoelloos vind. Verwag jy dat die HERE ‘n bruid moet trou wat vol is van wrok, jaloesie en haat? Verwag ons dat die HERE ‘n siel moet beloon met ‘n verheerlikte liggaam en ‘n plek in die Hemel wat nie sy medemens lief het nie? Dieselfde siel wat die HERE op Golgota voor gely en gesterf het? Die HERE gee nie om wat wie aan ons gedoen het nie, want Hy het ons die mag gegee om te vergewe en te vergeet. Hierdie geskenk is aan ons almal gegee, maar as ons dit nie toepas nie, want moet die HERE dink? “Sy is my vrou, maar sy haat die siel wat ek voor gesterf het!” Is dit regverdig? Die HERE kan ons tekortkominge oorsien, maar hy kan nie ons opset om verkeerd te wil doen oorsien nie. Ons wat onsself dissipels, onderwysers en profete van die Woord noem, moet in die weë van die HERE loop. Staan daar dan nie geskryf “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:22-23) As jy hierdie sondes afsien, dan sal jy saamgaan met die wegraping!
Paulus se dit so goed in 1 Korintiërs 13:1 “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.” Het u ‘n luidende simbaal geword?
Die doel van hierdie boodskap is nie om u te slaan en dan bloeiend agter te laat nie. Die HERE wys die dinge wat Hom nie gelukkig maak nie uit sodat ons dit kan regmaak. Dink u dit sal beter wees om te wag tot na die wegraping en slegs dan uit te vind dat u nie gereed was nie? Kyk diep in daardie donker hoekies van u hart. Agterna sal Jesus kom om olie en wyn oor die wonde te gooi om genesing aan te help. Maak reg wat verkeerd is, want al was ons sonde soos bloed, sal die HERE dit wit maak soos sneeu. Die HERE het ons oneindig baie lief en Hy tugtig die wat Hy liefhet. Dis waarom Hy hierdie dinge aan ons uitwys. Moenie nou wegskram nie.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!