Ons lewenspad saam met Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Toe ek in 2010 met Suiderkruis begin het, het ek geen idee gehad hoeveel werk die HERE deur hierdie bediening sou vermag nie.

So nou en dan sal die HERE vir my wys wat Hy vermag het deur die werk wat ek doen. Dit gebeur as mense vir my e-pos om aan my mee te deel wat se verskil die HERE in hulle lewens maak as gevolg van die boodskappe wat ek pos. Ek sit partykeer hier, oorstelp van vreugde oor nog ‘n siel wat uit satan se afskuwelike kloue ontsnap het! Dan prys ek die Here vir die kennis wat Hy my gegee het om met hierdie projek te kon begin tot eer van Sy Naam!

Die dag as jy besluit om die Here te dien, dan is dit soos daardie getuienis wat ek so ‘n tyd gelede gepos het “Saam met Jesus op ‘n Tandem Fiets”. Aanvanklik klim jy voor op die fiets en Jesus agter op, want jy hou daarvan om in beheer te wees, maar dis net daar waar ons almal die fout van ons lewens maak! Solank as wat ons as mens in beheer van ons lewens is, kan die Here ons nie werklik lei nie, want ons vertrou Hom nie genoeg om Hom die voorste sitplek waar die stuur is, te gee nie. Die HERE sal jou help trap aan die fiets, met ander woorde, Hy sal jou help op jou lewenspad, maar die werklike seëninge kom eers as jy beheer oor gee en jou klein handjie in die HERE s’n sit en Hom toe laat om Sy Wil te laat geskied! Dan kom jy agter dat die HERE meer weet van die lewenspad bewandel as wat jy gedink het, want skielik werk alles in jou lewe net uit! Jy het altyd genoeg van alles. Nooit ‘n oorvloed nie, net genoeg!

Vir baie van ons is die lewe soos ‘n toutrek kompetisie. Aan die een kant probeer die vyand jou terug trek in die wêreld en aan die ander kant probeer die HERE jou aantrek na Hom toe. Een van my lesers sê dat hy eendag so moeg geraak het vir hierdie toutrekkery dat hy vir Jesus gevra het wanneer Hy en satan nou gaan ophou toutrek, want hy kies vir Jesus en sal altyd vir Jesus kies. Onmiddellik kom die antwoord: “Hou dan op om die tou te wees!” Met ander woorde: hou op om dinge op jou eie manier te wil doen en jouself altyd eerste te wil stel! Gee jou lewe oor aan die Here. Vertrou op Hom ALTYD! Klim ‘n slag agter op daardie fiets en kyk wat die HERE kan doen!

Psalm 62:9 stel dit so goed: “Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ’n toevlug vir ons.”

As ons bid dan is ons so gewoond om te sê “Dankie vir dit” en “Dankie vir daai” en “Vergewe asseblief dit”, maar ons gesels nie werklik met God nie. Gaan in jou kamer in as jy alleen is, gaan kniel voor die Here en stort jou hart voor hom uit. Vertel Hom alles! Hy weet reeds alles wat jy gedoen het, want Hy sien alles wat ons doen, daarom is daar geen rede om skaam te wees nie. Hy wil dit maar net van jou self af hoor! Neem jou toevlug tot die Here. Vra vergifnis vir jou oortredinge. Julle weet, as jy by die HERE is, is dit die een plek waar satan jou nie kan versoek nie! Hy kan jou herinner aan jou oortredinge en al die slegte dinge wat jy gedoen het, maar soos dit by jou opkom, vra dat die HERE dit met Sy bloed bedek sodat dit nooit weer tussen jou en Hom kom nie. Op daardie manier ontwapen jy vir satan en kan hy jou nie meer daarmee versoek of jou daaraan herinner nie!

Een van my ander lesers het ‘n probleem met haar huwelik gehad. Een aand, uit absolute moedeloosheid het sy op Internet gaan soek vir hulp. Google het vir haar Suider Kruis se stukkie “Wat sê die Bybel oor egskeiding en her-trouery” heel eerste gelys! Sy het besef dat sy nie hulp met haar huwelik nodig het nie, maar dat sy vir Jesus nodig het! Prys die Here! Julle moet besef dat daar nie iets soos toeval in die lewe is nie. Niks gebeur sommer maar net nie. Met alles is daar ‘n doel. Jy ontdek nie maar net daardie webruimte nie. Die HERE se Gees lei jou daarheen.

Ons as mens is die grootste rede vir ons eie hartseer en pyn! Dis omdat ons alewig alles self en op ons eie manier wil doen in plaas daarvan om dinge in die Hande van die HERE te wil los. Dan beland ons in allerhande slaggate of ons verdwaal op een van satan se dwaal paaie wat vir ons so reg gelyk het, maar baie gou is daar allerhande bome met lae takke en groot klippe wat ons forseer om stadiger te gaan of selfs te stop. Dan kom satan en lieg vir jou deur vir jou te vertel dat niemand jou kan help behalwe jouself nie! Raai wat? Ons luister en eet die leun vir soetkoek op!

Ek gaan afsluit met die volgende Bybel vers in Hebreërs 13:5-6 [5] Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. [6]  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”

Mag die here hierdie boodskap seën!

(Visited 269 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , , .