Volg Jesus in danksegging en gehoorsaamheid en wandel in liefde volgens die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het.
As Kind van die HERE mag geen vorm van onreinheid ooit in ons lewens gevind word nie. Geen gemeenheid, dwase of lawwe praatjies nie. Hierdie is belangrik, want die Woord van God leer vir ons dat hoereerder, onreine, gierigaard of afgode dienaar ‘n erfdeel in die Koningryk van God sal hê nie. (Efesiërs 5:5)
Moenie dat iemand jou verlei met mooi woorde nie. Sonde is sonde en geen aantal mooi woorde sal dit ooit goed maak nie. Daar is geen regverdiging vir sonde nie en Jesus sal nie verstaan dat jy swak is en jouself nie kan help nie. Ons het al die mag in die Hemel tot ons beskikking deur die Naam van Jesus. Gee vir satan geen plek nie, maar bestraf hom eerder.
As jy oortree, gaan dan terug na Jesus. Vra vergifnis en bely jou sonde voor die HERE sodat jy ten volle vergewe kan word. Jou liggaam is ‘n tempel van die HERE. Moenie dat die wêreld ‘n houvas oor jou tempel kry nie.
Voor Jesus ons gered het, was ons in die duisternis, maar nou is ons in die lig. Wandel dan soos Kinders van die lig in wysheid en nie soos die kinders van die duisternis in dwaasheid nie.
Moenie dink dat sonde wat in die geheim gedoen word in die geheim sal bly nie. Alles wat deur die lig bestraf word, word geopenbaar. Daarom, ontwaak jy wat slaap en staan op sodat God oor jou kan skyn.
Die vrug van die Gees bestaan uit naasteliefde, geregtigheid en waarheid. Beproef wat vir Jesus behaaglik is. Wees aan mekaar onderdanig in liefde soos Jesus ons lief gehad het.
Wandel jou lewenspad met wysheid en koop die dae uit omdat die dae boos geword het. Wees verstandig teenoor die wil van die HERE en word met die Gees vervul.
Spreek in danksegging teenoor die HERE en loof Hom gedurig vir alles wat Hy vir julle doen en nog gaan doen. Jesus deel nie Sy eer nie. Moet dus nie die eer van God steel deur stil te bly nie.
Liewe lesers, Jesus gaan kom vir ‘n Bruid wat rein is, sonder vlek of rimpel en dis nie moeilik om hierdie standaard te bereik nie. Ons tyd is baie min en ek besef maar net te goed dat daar baie van julle is wat dit kan aanvoel. Laat jou lig daarom skyn, want die wêreld raak al hoe donkerder en al hoe boser. Ons is die daardie lig, maar hoe kan ons vir Jesus skyn as ons lewens vol sonde is?
Raak daarom ontslae van sonde in jou lewe voor dit te laat is, want binnekort gaan die geklop aan die deur van jou hart ophou…
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
