HERE help!

Wat ons nie besef nie is dat die dag as jy jou hart vir Jesus gee, dan begin daar ‘n vriendskap tussen jou en Jesus.

Omdat ons die aard van daardie vriendskap besef nie, verwaarloos ons daardie vriendskap deur al hoe minder met Jesus te gesels en Hom al hoe meer uit ons lewens uit te sny. Dis waarom daar allerhande slegte goed met ons gebeur, want dis Jesus se manier om ons te skok sodat ons kan terugkom na Hom toe. Soms werk dit, maar soms nie.

As mens is ons hardkoppig, ongehoorsaam en wil ons nie luister nie. Ek tel myself ook hierby in, want ek is ook ongehoorsaam. Tog is Jesus geduldig met elkeen van ons tot op ‘n vlak wat vir ons moeilik is om te verstaan. Dis die onuitbluslike liefde van ‘n Vader daardie. ‘n Liefde wat dieper as die diepste see en hoër as die hoogste berg is.

As ‘n mens mooi gaan sit en dink dan vra Jesus eintlik baie min van elkeen van ons: net dat jy Hom sal erken as heerser in jou lewe. Baie sal dink dat dit baie is om te vra, maar dink ‘n bietjie; die vriendskap van ‘n Vader wat jou liewer het as wat jy ooit sal besef en die konstante teenwoordigheid van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat ons oortuig van die waarheid en gedurig vir ons die regte pad wys sodat ons nie op ‘n afdraai roete moet beland nie.

Ek weet nie van julle nie, maar vir my is dit ‘n fantastiese ooreenkoms! Deur die Gees onderskei ons reg van verkeerd en weet ons watter leer reg is en watter een verkeerd is. Deur die Gees sal jy jou nooit hoor te sê: “Ek is nou so deurmekaar nie”, want jy sal altyd weet watter een reg is. Selfs al probeer satan ‘n stok in jou speke steek sodat jy moet val.

Deur die Gees gaan ons weet dat Jesus ‘n doel het met alles wat in ons lewens gebeur, selfs al sien ons nie daardie doel op daardie oomblik nie. Deur die Gees net ons toegang tot Jesus en al die krag in die Hemel deur net die Naam van Jesus te gebruik. Dit raak net beter en beter!

Liewe leser, Jesus het jou vreeslik lief. Hy kan dit nie staan om vir ‘n oomblik sonder jou te wees nie. Al wat Hy vra is dat jy dit sal erken en na Hom toe sal terug kom. Jesus staan en wag. Tel die klippe van jou gebed altaar op en pak hulle reg waar hulle uitgeval het as gevolg van verwaarlosing en vra Jesus om weer in jou lewe terug te kom.

Jesus wag vir jou. Hy weet dat satan jou baie seer gemaak het en daarom staan Hy gereed om jou wonde te verbind en jou weet op jou voete te help. Jy moet net sê: “HERE, help!”

Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 149 times, 1 visits today)
Tagged , , , .