Geen veroordeling nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus wys vir my dat daar van julle is wat bekommerd is en dat ek julle gerus moet stel.

Paulus skryf hierdie baie bekende woorde in Romeine 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Wat beteken hierdie woorde? Kom ons kyk!

Paulus gaan en verduidelik dit baie mooi as ‘n mens die hele Romeine 8 gaan lees, maar ek gaan dit vir julle opsom: Ons wat tot bekering gekom het, die Heilige Gees in ons het en nie volgens die begeertes van die vlees wandel nie, is vry van God se oordeel. Prys Sy Naam!

Geen ongeluk sal ons tref nie! Geen siekte nie. Absoluut niks sal met jou gebeur sonder die uitdruklike Wil van die Vader nie! Jy het daarom geen rede tot vrees nie! AMEN!

Kyk wat skryf Paulus in vers 15: “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” Is Jesus nie wonderlik nie! Geen veroordeling nie! Net ‘n Vader se onuitbluslike liefde vir die wat Hom aanbid! Prys die Naam van Jesus!

Die Gees van God in ons getuig saam met ons dat ons Kinders van God is en omdat ons Kinders van God is, dan is ons ook mede erfgename van God! Ons wat gered is in die hoop wat nie gesien kan word nie en daarom wag ons op ons verlossing met volharding. Volharding omdat ons weet dat niks wat ons nou deurgaan ooit tevergeefs voor die HERE is nie en ook omdat ons weet dat alles altyd ten goede uitwerk vir hulle wat God lief het.

As ons swak is, dan kom die Gees ons swakhede ten hulp en tree dit in vir ons by God die Vader omdat dit die bedoelinge van ons harte ken. Ons is daarom geregverdig voor die HERE; ons wat Sy Naam aan roep! Prys die Naam van Jesus!

Wie sal dan beskuldigings inbring teen die uitverkorenes van God? God wat ons geregverdig het? Wie sal ons skei van die liefde van Jesus? Verdrukking, benoudheid, vervolging, honger, gevaar of die swaard? Deur al hierdie dinge is ons meer as net oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het en niks kan of sal ons ooit skei van die liefde van onse HERE Jesus Christus nie! Prys Sy Naam!

Nou dat julle die waarheid weet, weet dat God met jou is, liewe leser. As jy bekommerd is oor die wegraping, moet dat nie wees nie. Jy wat die Gees van die HERE in jou het en wandel volgens Sy verordinge; jy wat die begeerlikhede van die vlees verwerp en gekruisig het; jy wat die HERE lief het met jou hele hart, sal nie agtergelaat word nie. Moenie langer na satan se leuens luister nie, want dis al wat dit is; LEUENS!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 171 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .