Jesus se genade met ons sondaars is te groot om te verstaan en ek kan julle verseker dat Hy genade aan jou ook sal betoon.
Vir die van julle wat skape ken of self met al met hulle geboer het, sal weet hoe belangrik dit is om te sorg dat jy ‘n iemand het wat al langs die grensdraad van jou kamp kan afloop om te kyk vir enige gate in die draad. Skape sal, selfs al het hulle ‘n oorvloed kos en water binne in die kamp, altyd probeer om uit te kom om so deur wilde diere verskeur te word.
Ons as Christene is presies dieselfde! Jesus voorsien aan ons alles wat ons nodig het, maar nog steeds wil ons die wêreld buite die kamp gaan verken! Ons het miskien nie ‘n oorvloed van alles binne in die kamp nie, maar ons het genoeg. Nou gaan soek ons na nog meer buite die kamp… As ek maar net daardie duur motor kan bekostig of daardie mooi huis… So gaan soek ons na oorvloed buite die kamp en dan begin satan ons versoek en verlei hy ons en allerhande slegte dinge gebeur met ons. Baie verstaan nie waarom nie, maar dis omdat jy buite die kamp is en buite die beskerming van Jesus! Hy kan jou immers net beskerm as jy binne Sy Wil lewe!
As ons binne die kamp is, kan ons die stem van Jesus duidelik hoor en kan ons Sy Wil vir ons aanvoel, maar as ons buite die kamp is, dan vervaag daardie stemmetjie en kan ons die Wil van Jesus nie meer voel nie. Dan word ons soos skepe wat op die oseaan rondgeslinger word in die woeste see en ons weet nie waarheen om te vaar nie.
Ek was self al in jy lewe op hierdie plek en ek is seker daar is van julle wat ook al was. Dit het baie jare gelede gebeur, net na die ekonomiese insinking van 2010. Ek het ‘n besigheid gehad wat goed gedoen het, maar die ekonomiese insinking het my hard getref. Mense het nie meer so maklik gekoop soos voor heen nie en ek het dit ernstig oorweeg om ander werk te gaan soek. Iets in my plan het egter nie so lekker gevoel nie, maar ek kon nie bepaal wat dit is nie. Dis asof iemand my wou waarsku om dit nie te doen nie.
Einde ten laaste, net voor ek sou ry om my plan uit te voer, het ek die Bybel oopgemaak om te probeer vasstel wat hierdie gevoel van onheil beteken. Ek weet tot vandag toe nog nie waar die vers gestaan het nie, maar die vers het iets soos dit gegaan: “Ek is ek nie die HERE jou God wat jou uit Egipte land uitgelei het nie. Waarom verlang jy na die vleispotte van Egipte?”
Mense, daardie vers het my tot in my siel geskok en ek het geweet dat as ek hiermee voort gaan, ek baie ver buite die kamp sou gaan. Ek het al my planne laat vaar. Vandag het ek nie baie nie, maar ek het geen tekort aan enige iets nie. As ek iets nodig het, dan sorg Jesus dat die geld daarvoor beskikbaar is voor ek daarvoor gevra het. Daar is nooit ‘n oorvloed nie, maar altyd net genoeg om van te lewe.
Julle moet weet dat satan jou agtervolg soos ‘n leeu ‘n prooi bekruip. Hy weet dat solank jy binne die veiligheid van die skaapkraal is, jou eers moet uitlok voor hy jou kan aanval. So, stuur hy ‘n gees van wellus om jou aan te blaas sodat jy deur die draad moet breek.
In 1 Johannes 2:15-16 staan: “[15] Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. [16] Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”
Het julle al agtergekom dat as daar iets in die wêreld is wat jy graag wil hê, dan MOET jy dit eenvoudig net hê? Selfs al weet jy die antwoord van Jesus is nee, moet jy dit net eenvoudig hê! Dis dan wanneer jy die wêreld liewer het as Jesus.
Satan sal vir jou al die begeerlikhede wys en dit lyk so baie lekker, maar daar is ‘n baie duur prys om te betaal vir daardie genot. Daardie duur prys word nooit aan jou bekend gemaak voor dit nie te laat vir jou is nie. Met Jesus is dit nie so nie. Dis soos hulle in Engels sê “what-you-see-is-what-you-get!” Met Jesus is daar geen by bedoelings nie; geen agterhoede om die hele tyd te beskerm nie. Jy kan net jouself wees! Is dit nie wonderlik nie?
Liewe Kind van Jesus, wil jy hê Jesus moet jou vertrou? Bly dan binne die Wil van Jesus. Ek weet dis nie maklik nie, want ons is almal rebelle op ons eie manier wat net ons eie wil wil doen. Glo my maar, Jesus kan jou het beskerm as jy binne die Wil van Jesus, of liewer, binne die kampie bly. As jy eers deur die grensdraad gebreek het, is jy satan sin en kan Jesus jou nie meer teen die aanvalle van satan beskerm nie.
My vraag vir jou is: waar is jy nou? Is jy binne of buite die kampie? Net jy sal daardie vraag kan beantwoord. As jy die vrede en die liefde van Jesus aanvoel, kan jy vir seker weet, jy is binne die kampie, maar as jy onheil voel en satan versoek jou gedurig, weet dan dat jy buite die kamp rondloop.
Jesus is baie genadig. As jy terugkom sal Hy jou vergewe en jou herstel, maar jy moet eers terugkeer en wys dat jy Jesus meer liefhet as die wêreld!
Prys die Naam van Jesus!