Hoe baie keer gebeur dit dat ons nie op die regte plek is saam met Jesus as gevolg van ons eie swakhede nie?
Ons almal het ‘n kruis wat ons vir Jesus dra; ‘n spesifieke sonde waarmee ons gereeld sukkel. Sommige s’n is woede, ander s’n weer die lus om te koop en so gaan dit aan. Hierdie swakheid is soos ‘n monster. Hoe meer jy hom voer, hoe meer wil hulle hê en daar is net geen einde aan sy eetlus nie! As jy daardie monster geen kos voer nie, dan raak dit eers maerder en sal dit aanvanklik dood gaan, maar om dit reg te kry is nie altyd so maklik nie en baie keer gee ons in.
Sonder dat ons dit besef maak deure oop na ‘n demoniese wêreld en ons aksies het gevolge. Iemand slimmer as ek het eenslag gesê dat die feit dat ons die vryheid van keuse het, beteken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuse nie! Hoe waar is dit nie, want sonde is ‘n ernstig saak, maak nie saak in watter vorm dit na ons kom nie. Daar is nie iets soos ‘n groot en ‘n klein sonde voor Jesus nie en as Bruid van Jesus moet ons versigtig wees hoe ons optree.
So beland ons op ‘n syspoor wat ons wegvat van Jesus af. Dan moet Jesus tot die uiterstes gaan om ons weer op die regte pad te kry en dit sluit in om satan toe te laat om ons te sif sodat ons die nutteloosheid van ons besluite kan sien.
Partykeer is ons self geregtig en dink ons weet beter as Jesus. Dan wil ons soos Job sê: “Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie.” (Job 33:9) Woorde soos die kom neer op hoogmoed en dis glad nie die regte plek om met Jesus te wees nie, want Jesus haat hoogmoed.
Selfs al is jou gebede diep, sal jy afgeskakel voel in die teenwoordigheid van Jesus. Daar is dan net een uitweg en dit is om vergifnis te gaan vra op jou knieë. Dis die enigste manier om uit te vind wat jy verkeerd gedoen het.
Om effektief te wees in gebed beteken dat jy skoon moet wees voor Jesus. As jy dan, terwyl jy op jou knieë is, vir die Heilige Gees vra om aan jou te wys waar jy verkeerd gegaan het, dan gaan jy baie dinge sien. Alles gaan nie altyd mooi wees nie: oordeel, disrespek, selfbevrediging, onvergewensgesindheid, trots en gierigheid. Hierdie is demone wat besit neem van jou en dis baie maklik om hulle oor te dra na iemand anders, partykeer sonder dat jy eers daarvan bewus is. Dit maak ‘n mens onrein aan die binnekant, selfs al lyk die buitekant hoe mooi. Dis waarom jy afgesluit voel van Jesus as jy bid. Jy bid na ‘n HERE sonder sonde terwyl jy self onrein is. Verstaan julle?
As jy Jesus aanbid, maar jy het ook ‘n begeerte na wêreldse dinge, dan is dit verkeerd! Dis dieselfde as egbreek pleeg as jy getroud is. Dis dan wanneer Jesus vir ons sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” (Mattheus 15:8) Ons moet Jesus s’n wees en syne alleen, want Hy is ‘n jaloerse God! Hy wil ons vir Homself hê en ons glad nie met die wêreld deel nie.
Jesus weet ons is swak. As dit gebeur dat jy op ‘n syspoor beland; moet dan nie skaam wees nie. Gaan op jou knieë en vra Jesus om vergifnis. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken en Hy staan gereed om jou te vergewe.
Niks in die HEMEL is so giftig soos hoogmoed nie. Dis waarom Jesus toe laat dat satan ons sif sodat ons nederig moet bly en hoogmoed geen plek het om in te kan kom nie. Verstaan julle?
Jesus vra dat ons die stof van die wêreld moet afskud en terug moet kom na Sy ope arms toe. In hierdie wêreld sal ons altyd struikel in die vlees en wêreldse begeerte, maar weet dat Jesus beide oorkom het vir ons. As ons getrou is en nederig bly, sal Jesus ons verlos, jou wonde verbind en jou weer regop laat staan.
Prys die wonderlike Naam van Jesus vir hierdie boodskap!