Jesus vergewe tot vandag nog ons oortredinge omdat Hy ons so oneindig baie lief het, maak nie saak of jy gered is of nie.
Jesus het op geleentheid in die huis van Simon, ‘n Fariseër aan tafel gegaan. Ons kan die verhaal lees in Lukas 7:36-50 “[36] En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. [37] En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring [38] en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. [39] Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares. [40] En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek. [41] Hy sê toe: ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig; [42] en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan al twee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? [43] En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel. [44] Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. [45] ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. [46] Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. [47] Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar [48] En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. [49] Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? [50] En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”
Jesus staan gereed om jou sonde te vergewe, maak nie saak wat jy gedoen het nie. Hy staan met oop arms en sê “Kom na My toe en Ek sal vir jou rus en vrede gee. Ek weet dat jy bang is en dat jy skaam is oor dit wat jy gedoen het, maar jy hoef nie, want Ek ken jou hart en Ek weet klaar wat jy gedoen het. Jy hoef glad nie bang te wees nie, want Ek is nie vir jou kwaad nie. Ek wil jou vergewe sodat jy saam met My kan maaltyd hou.”
Liewe leser, hoeveel meer uitnodiging het jy nodig? Jesus ken jou hart, hy weet van jou oortredinge, waarom is jy nog skaam daaroor? Jesus wil jou vergewe en Hy sal. Vra Jesus onverskoning net daar waar jy hierdie sit en lees en voel hoe ‘n gewig van jou skouers af gehaal word. Jy hoef werklik nie meer hierdie las wat jy so lank saam met jou gedra het verder te dra nie. Jou tyd om hierdie las te dra is nou verby.
Vir julle wat gered is en wonder oor julle oortredings het Jesus hierdie boodskap vir jou: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” (2 Korintiërs 12:9) Hoe baie keer val en sondig ons as Kinders van die HERE nie? Baie keer en ek is een van hulle. Dan voel jou hart gebreek; jy wonder waarom satan so baie mag het en jy wonder of jy ooit perfek sal wees. Jesus sê vir jou dat Sy genade vir jou genoeg is! Staan op van die grond af, bestraf satan en hou aan om vir Jesus te volg! Prys die Naam van Jesus!
Jesus sal alles in Sy vermoë doen om te verseker dat jy nederig bly. Hy sal selfs toelaat dat ‘n engel van satan jou versoek en jou met die vuis in die sy slaan net om te verseker dat jy nederig bly. Selfs Paulus het gesê dat hy ‘n welbehae het in sy swakhede, want as hy swak is, dan is hy sterk! Moet dus nie so hard op jouself wees nie, liewe Kind van die HERE! Die feit dat jy geval het, is ‘n teken van jou sterkte! Prys die Naam van Jesus!
Los nou jou laste by Jesus se voete en gaan in vrede, liewe Kind van die HERE!