Optrede van ‘n Kind van God

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons optrede is wat ons onderskei van die wêreld, want die Bybel sê dat aan die vrugte sal die boom geken word. Hoe lyk jou vrugte, liewe leser?

Mattheus 7 in die Bybel gaan spesifiek oor hierdie optrede en dit begin met ‘n waarskuwing dat ons versigtig moet wees hoe ons oordeel, want niemand is sonder sonde nie! Daarna beweeg dit aan dat ons God in alles moet vertrou omdat Hy voorsien en vir ons sorg. Uit ons eie moet ons niks probeer doen nie, want uit ons eie kan ons niks doen nie. Dan waarsku Jesus ons weer dat ons op die nou pad moet bly, want die pad wat na die verderf gaan is breed en baie is daarop. Die poort wat na die Ewige Lewe lei is nou en die pad is smal en die wat dit vind is min. Nog ‘n waarskuwing volg: pasop vir die wolwe in skaapklere, want aan hulle vrugte sal ons hulle ken. Nie elkeen wat sê “Here Here” sal ingaan in die Koningryk van die Hemele nie…

Kom ons kyk nou in diepte na die laasgenoemde hoofstuk.

Kom ons kyk na die waarskuwing om nie te oordeel nie. As mens het ons die reg om te beoordeel. Ek mag sê dat ek nie hou van groente nie. Ek mag ook sê dat ek nie saam met iemand stem nie. Ek mag self sê van wie ek hou of nie hou nie. Ek mag egter nie veroordeel nie, want ek is net so sondig en het net soveel foute soos die persoon wat ek veroordeel. In kort, ek het geen mag om te veroordeel nie. Net een persoon het daardie mag en dit is Jesus. Ten spyte daarvan, veroordeel ons maar net te lekker en verbrand ons gereeld ons vingers in die proses, maar leer is min!

As ek nou vir julle moet vra wie vertrou die Here is ek seker ek gaan sommer honderde hande sien opgaan. So kom ek vra dit so: “Wie van julle vertrou die Here met alles in jou lewe?” Ek wonder hoeveel hande daar nou gaan wees? Weet julle waarom? Want ons is almal dieselfde! Sodra die skoen begin druk, dan wil ons maar het te graag dinge op ons eie regmaak! Ek was ook so, maar weet julle wat? As jy eers geleer het om die Here in alles te vertrou en Hy het dit vir jou gewys, dan gaan jy ‘n kalmte in die lewe ervaar wat jy nooit van geweet het nie. Het julle al ooit iemand teëgekom wat so geseënd is dat dit eintlik vreemd is? Dit is wat gebeur as jy die Here met alles vertrou en te weet dat Hy vir jou sal sorg, maak nie saak wat gebeur nie. Dit gaan daaroor dat jy doen wat jy moet en dan die res in die hande van die Here los! Dis so maklik! Moenie jou eie finansiële heil probeer bewerkstellig nie. Laat die Here dit vir jou doen.

Laasgenoemde sluit aan by die gedeelte oor baie wat soek na die nou pad, maar min wat dit vind. Hoe baie Christene soek na die nou pad. Hulle beny die wat die Here magtig seën, maar self vind hulle dit nie… Al gewonder hoekom? Dis omdat jy die Here nie ten volle vertrou nie en Sy Gees nie toe laat om ten volle in jou lewe te regeer nie. Vertrou die Here met alles, selfs al lyk dit hoe onmoontlik. Die Here het dit aan my bewys! Ek het my elke maand dood bekommer oor my besigheid se finansies. Toe kom die Here en wys my dat al my bekommernisse net een groot mors van tyd is! Ek bekommer my nie meer daaroor nie. Om die waarheid te sê, bekommer ek my oor niks en julle sal verbaas wees hoe dinge sommer net vanself reg loop! Die Here weet wat ek nodig het en Hy voorsien! AMEN! Nou vra ek weer: is jy op die nou pad of soek jy nog steeds daarna?

Die van julle wat nie op die nou pad is of nie die Gees van die Here toelaat om te werk in julle lewens nie, sal sien dat julle baie vinnig mislei kan word. Dis waarom Jesus ons dan ook waarsku om te oppas vir die wolwe in die skaapsklere! Satan se sterkste wapen is misleiding en my mislei duisende! Die ergste is dat hy ons eie slimheid teen ons gebruik! Jesus sê egter dat ons hierdie mense aan hulle vrugte sal erken. Al doen iemand hom hoe goed voor, hy kan sy werke nie verbloem nie en dit is waarop hulle uitgevang kan word.

Die laaste waarskuwing is dat na die wegraping sal duisende kom en sê: “Maar Here, het ons in u naam nie duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak nie?” En Hy sal sê: “Gaan weg agter My; Ek het julle nooit geken nie!” Liewe leser, hoe gaan die Here jou leer ken as jy Sy Gees nie toelaat om te werk in jou lewe nie? Onthou nie almal wat sê “Here Here” sal ingaan in die Koningryk van die Hemele nie!

Sien julle nou hoe belangrik alles is waaroor ek geskryf het? Moenie oordeel nie, laat die Here se Gees toe om te werk in jou lewe en vertrou Hom met alles! Hoe baie gaan gereeld kerk toe en bid gereeld, maar hulle kom nooit verder as dit nie? Hulle weet nie hoe dit voel om ‘n intieme verhouding met die Here te hê nie en hulle weet glad nie hoe dit voel om op die nou pad te wandel nie… Liewe leser, as jy een van hierdie stereotipes is wat vasgevang is in ‘n web van dinge doen omdat dit deur die samelewing aanvaarbaar is, hou dan dadelik op! Die Here soek nie slawe wat bevele volg nie! Hy soek ‘n volk wat Hom in hulle lewens wil vertrou en Hom wil volg! Hy soek ‘n intieme verhouding met jou!

As ons dit doen, dan sal ons wees soos die man wat sy huis op ‘n rots gebou het, want die storms van die lewe het gekom en teen daardie huis vasgeslaan, maar dit kon dit nie beweeg nie! Klink dit nie lekker nie? Maak nie saak wat se probleem in jou rigting kom nie, met jou voete stewig in Jesus die rots geplant, lag ons enige iets wat met ons gebeur af. As jy dit doen, gaan dit vir die wêreld lyk of jy dans as jy loop, want niks gaan jou kan raak nie! Prys die Naam van Jesus!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 409 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .