Owerspel en moord : Beroemde Koning skuldig!

As ‘n mens kyk na die opskrif van hierdie boodskap kyk, dan klink dit soos ‘n opskrif in vandag se koerante, maar dis alles behalwe…

Alhoewel die opskrif waar is, het dit baie lank gelede gebeur in 2 Samuel 11 en 12! In hierdie gedeelte  lees ons hoe Koning David teen God gesondig het. David wat ‘n briljante en komplekse man wat deur die genade van God, Israel se grootste koning geword het, maar hy het Bátseba, die vrou van Uría die Hetiet begeer. Hy het selfs sovêr gegaan as om owerspel te pleeg en omgang met die vrou te hê terwyl haar man in die oorlog teen Amon geveg het.

Bátseba het swanger geraak en toe David dit te hore kom het hy ‘n brief aan Joab, een van sy generaals, gestuur met ‘n opdrag dat Uría aan die voorste punt van die geveg geplaas moet word. Joab het gedoen soos die koning beveel het en toe die geveg op sy hewigste was, het Joab sy manne onttrek en vir Uría alleen tussen die vyand gelos. Uría het natuurlik gesterf toe laasgenoemde gebeur het.

Toe David dit hoor het hy vir Bátseba, die vrou van Uría as syne geneem en sy het vir hom ‘n seun gebaar, maar dit wat David gedoen het was verkeerd in die oë van die Here. Die Here het die Profeet Natan na David gestuur om hom te konfronteer oor die gebeure. David het besef dat hy teen die Here gesondig het. Hy het desperaat by die Here gesmeek om hom skoon te was van sy skuld en hom te reinig van sy sonde en ons lees dit in Psalm 51:10-12 [10] Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. [11] Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. [12] Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.”

Die sonde wat Dawid gedoen het, het God baie kwaad gemaak, maar tog het Hy hom vergewe en bo alle verwagtinge geseën. Dawid was egter radeloos van angs alhoewel God hom vergewe het. Dit was noodsaaklik dat hy homself moet oortuig dat sy pad met God nou reg is.

Dawid was nie uniek in hierdie geval nie. Ons maak almal foute en struikel. As mens het ons ‘n beperkte visie en ons sien nie altyd die gevolge van ons oortredinge raak nie. Dit is dan wanneer dit nodig is dat ons onsself tot ons Hemelse Vader wend en sê: “Jesus, ek het gesondig en ek is jammer.” Eers as die lug tussen ons en die Here gesuiwer is, dan kan ons dit wat ons verkeerd gedoen het regstel. Eers as dit wat verkeerd was ten volle reggestel is, kan ons aan beweeg, wetend dat die Here ons vergewe het.

As jy dit alles gedoen het, dan is daar geen rede om sleg te voel oor jou oortreding nie, want ons almal sondig voor Jesus. Ek ook, want ek is ook net ‘n mens en net soos alle mense is my visie ook beperk. As dit by sonde kom, sien ons nooit die volle prentjie nie en satan gebruik daardie beperkte visie van ons tot die uiterste. Satan sal net vir die jou die plesier van dit wat jy verkeerd doen wys en nooit die gevolge daarvan nie. Eers as dit te laat is, dan kom jy agter net wat dit is wat jy gedoen het en dan is spyt letterlik te laat.

As mense wil ons met alles in ons harte die regte ding doen, maar dan kom omstandighede jou pad en dan begin jy twyfel. Voor jy mooi weet wat aangaan, is jy verby die punt van omdraai. Die van julle wat by hierdie punt sit, weet dat om te sondig nooit reg is nie. Daar is geen regverdigings grond wat jy kan gee vir sonde nie en dit beteken dat jy dit op geen manier kan regverdig nie. Jy het ‘n fout gemaak en om by Jesus te gaan regmaak is die enigste manier uit!

Moenie dat satan vir jou vertel dat die HERE so kwaad is vir jou nie of dat jy buitengewoon gestraf gaan word vir jou oortreding nie. Dis alles leuens! Die HERE weet klaar wat jy gedoen het. Om enige iets weg te probeer steek is dus nutteloos!

Gelukkig is genade nog steeds beskikbaar en kan jy vergewe word. God die Vader het jou so lief, dat Hy Sy enigste Seun nie gespaar het om vergifnis te bewerkstelling vir jou nie. Gaan dus heen en gaan was jouself in die Bloed van die Lam tot die vergifnis van alle oortredinge. Maak nou reg wat verkeerd is terwyl die tyd daarvoor beskikbaar is, want nie een van ons weet wanneer ons tyd op aarde om is nie. Moet dus nie uitstel nie!

Mag die Here hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 434 times, 1 visits today)
Tagged , , , .