Jy moet glo!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus weet dat baie van julle by ‘n kruispad in julle lewens staan. Die van julle op wie hierdie boodskap van toepassing is, sal weet wie dit is.

Ek was ook al in my lewe daar en dit was die tyd in my lewe wat Jesus toegelaat het dat my besigheid bankrot speel. Ek het daardie aand met my hande in my hare gaan slaap, sonder dat ek geweet het hoe ek finansieel gaan oorleef. Ek het aftrekorders wat daardie aand van my besigheid bank rekening sou afgaan, maar daar was nie genoeg geld in gewees om te betaal daarvoor nie.

Ek was net soos baie van julle nou, radeloos. Ek het my hande in die lug opgegooi en gesê: “Jesus, dis nou in Jou hande. Ek het gedoen wat ek kon; meer kan ek nie. As dit Jou wil is dat my besigheid môre oggend nog bestaan, dan sal dit so wees, anders sal ek verstaan dat U vir my iets anders beplan.” Ek het daardie aand die lekkerste slaap geslaap wat nog ooit geslaap het.

Die volgende oggend het Jesus vir my gewys dat dit nie Sy wil is dat ek bankrot moet gaan nie; Prys Sy Naam! Iemand het deur die nag ‘n enorme groot bestelling geplaas en sommer daarvoor betaal ook! Daar was geld om al my verpligtinge teenoor my skuldeisers na te kom en nog ekstra ook oor!

Dis wat Jesus kan doen, liewe lesers! Ons bekommer ons hopeloos te veel oor dit wat ons nie kan verander nie in plaas daarvan dat ons al ons hoop in Jesus plaas! Ek het daardie dag geleer om God met alles in my lewe te vertrou! Sy Woord sê dat alles aan Hom behoort: die hele aarde en die volheid daarvan en dat Hy gee en toelaat dat daar gegee word! Alles wat ons besit wat ons dink ons s’n is, behoort aan die HERE en Hy gee en Hy neem soos dit Hom behaag. As Hy besluit om te neem, dan is dit nie om jou slegter af te laat as wat jy nou is nie, NEE! Dis omdat Hy iets baie beter vir jou ingedagte het en wil hê dat jy van die ou lelike goed ontslae moet raak, maar ons sien dit nie so nie.

Jesus sê in Sy Woord op verskillende plekke: “Gaan, jou geloof het jou gered.” Waar is daardie geloof nou? Ons is op die oomblik in die smeltkroes en word ons gelouter omdat die HERE die beter dinge in ons wil uithaal. Het julle al gesien wat gebeur met goud as dit in ‘n smeltkroes ingaan? Dis grof en lelik en vuil, maar as dit eers gesmelt is en die onsuiwerhede word afgeskep van die oppervlak van die smeltsel, dan word dit mooi, blink en kosbaar. Verstaan julle nou waarom ons nou so getoets word? Jesus probeer om die mooi in elkeen van ons uitbring en die enigste manier hoe hy dit kan doen is om ons onder druk te sit.

Dit gaan ongelukkig nie met almal werk nie en sommige van julle gaan rebelleer. Dit gaan nie beteken dat Jesus minder lief is vir jou nie en dit gaan ook nie beteken dat Jesus nie meer jou sondes gaan vergewe nie. Dit gaan net beteken dat waar ander ‘n dieper vlak in die geloof gaan bereik, jy gaan agterbly waar jy is. Hulle gaan letterlik ‘n ent hoër op wees op God se Heilige berg terwyl die wat weier gaan agterbly aan die voet van die berg. Onthou, dat Jesus vir al Sy Kinders ewe lief is en dat Hy geen onderskeid tref tussen Sy Kinders nie. Die enigste verskil is dat die wat saam met Jesus beweeg geestelike geskenke gaan ontvang omdat hulle bewys het dat hulle gereed en verantwoordelik genoeg is om daarmee te kan werk.

Ek gaan nou hierdie boodskap afsluit met Jesus se eie woorde: Gaan in vrede, want jou geloof het jou gered!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 139 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .

One Comment

  1. Amen! Prys, aanbid en loof en dank die God van Abraham, Isak en Jakob! Hy IS, Wie Hy Sê Hy IS!

Comments are closed.