Pas jou tong op!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal word op een of ander stadium kwaad en dan sê ons dinge wat ons later oor spyt is, maar dan is daar geen keer meer nie…

Jesus waarsku ons om ons tonge onder beheer te hou Jakobus 3 en ek sal voorstel dat julle die hele hoofstuk self gaan lees.

Jakobus begin heel eerste deur ons te waarsku om nie elkeen ‘n leermeester te wil wees nie, want jy wat jouself as leermeester aanstel, sal ‘n groter oordeel ontvang omdat jy as leermeester die verskil tussen reg en verkeerd ken! Dis omdat ek hierdie oordeel van God so vrees dat ek Suiderkruis op die waarheid gevestig het; om God se Woord te bedien soos dit staan en nie ‘n kerk se weergawe daarvan te verkondig nie. Ek weet maar net te goed dat ek eendag rekenskap van my bestuur gaan moet gee en dan gaan ek met ‘n oop gemoed dit kan doen. Prys die Naam van Jesus!

Jakobus gaan verder deur te verduidelik dat die stange waarmee perde gestuur word en so ook die roer van ‘n skip net soos die tong baie klein is in vergelyking met dit wat dit vermag. Hy gaan voort deur te verduidelik dat die mens al baie vermag het, behalwe om sy tong in toom te kan hou!

Die mens se tong is die vuur van ongeregtigheid. Dis een van die kleinste lede van die menslike liggaam, maar dit steek die hele lewensloop aan die brand. Dis ‘n onbedwingbare kwaad en ‘n pot vol dodelike gif. Met die tong loof ons God, maar terselfdertyd vervloek ons die mense wat na God se ewebeeld gemaak is!

Jakobus gaan voort deur te verduidelik dat dit nie so behoort te wees nie, want ‘n fontein bring tog nie vars en bitter water voort nie. Net so groei ‘n vyeboom nie druiwe nie en ‘n wingerdstok ook nie vye nie.

Hier kom die wysheid: toon jou werke in sagmoedigheid. Moenie afgunstig wees of lieg teen die waarheid nie, want die wysheid wat jy verkry deur leuens en afguns is nie wysheid van bo nie. Waar daar afguns en selfsug is, is daar wanorde en allerhande gemene dade.

Die wysheid van God is rein, vredeliewend, vriendelik, geseglik, barmhartig, onpartydig en ongeveins. Die vrugte van geregtigheid word gesaai in vrede en die wat vrede maak. Prys die Naam van Jesus!

Ons oordeel tog so vinnig; baie keer voor ons dink. Wat ons nie besef nie is dat Jesus Sy bloed gestort het en op die kruis gesterf het sodat elkeen van ons gered kan word. Wat gee ons dan die reg om te oordeel of om enige iemand te weerhou van daardie reddende krag wat waar vir almal van ons bestaan? Ons ken nie daardie persoon se hart nie en ons weet ook nie wat sy saak met Jesus is nie. Hou dus op om te oordeel, want jy ken nie die hele verhaal nie. Jy kan nie sien wat Jesus sien nie. Moet dus nie oordeel nie, want deur te oordeel, spreek jy ‘n oordeel oor jouself uit!

Los die oordeel vir Jesus, want die oordeel kom Hom toe.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 266 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .