Om ‘n opinie oor iets te hê is nie noodwendig sleg nie, maar as ons daardie opinie gebruik om teen God in opstand te kom, dan verander dinge.
Jesus het vanoggend vir my Titus 3:1-2 gegee om aan julle te bring. “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.”
Liewe lesers, wees onderdanig en gehoorsaam aan die wat bo-oor jou aangestel is. Die HERE het dit deur Sy Mag so bepaal en daar is ‘n rede waarom Hy dit so gedoen het. Daar is ‘n rede waarom ons huidige regering bo-oor ons aangestel was; daar is ‘n rede waarom jy jou verkeersboetes moet betaal, want dis die Wil van die HERE. Wees bereid om die goeie te doen, selfs al sien niemand dit raak nie. Moenie ander belaster of strydlustig wees nie, maar wees eerder vriendelik met almal en bewys sagmoedigheid aan hulle. Daardeur bewys jy dat die Heilige Gees in jou woon en kan ander sien dat die Lig van Jesus in jou is.
Ons almal was ongered op ‘n stadium in ons lewens en daardeur was ons op ‘n dwaalweg en verslaaf aan allerhande begeerlikhede. Ons het in boosheid en afguns gelewe en was haatlik teenoor mekaar, maar die HERE het ons gered nie op grond van ons werke nie, maar deur Sy barmhartigheid alleen. Ons is deur die bad van wedergeboorte; is vernuwe deur die Heilige Gees en geregverdig deur Sy genade sodat ons erfgename kan word met die hoop op die ewige lewe! Waarom dan diep ons hierdie ou gewoontes nou weer op?
Titus 3: 8 sê vir ons dat die Woord van God betroubaar is en dat ons wat die Woord van God aan die mense bring dit moet bevestig, sodat die wat in God glo sorg kan dra om dít is wat goed en nuttig is vir die mense voor te bring.
Jesus waarsku ons ook dat ons dwase stryd vrae, twis en stryery uit die Bybel uit moet vermy, want dit is doelloos en nutteloos! As ons so iemand teëkom, moet ons daardie persoon waarsku en as hulle daarmee voortgaan, moet ons aan hulle onttrek, wetende dat so iemand op die verkeerde pad is en sondig en uiteindelik hom/haarself sal veroordeel.
Daarom liewe leser, vermy stryery uit die Bybel uit. As jy ‘n opinie het, gaan eers en dink of jou opinie opbouend gaan wees vir die wat dit gaan lees. As jou opinie boosheid en afguns bevorder, moet dit dan nie pos nie, want jou optrede weerspieël nie die optrede van ‘n Kind van God nie!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!