Simboliek van die Vyeboom in die Bybel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die Vyeboom word in die algemeen gesien as die boom van die Volk van Israel. Ons lees die heel eerste keer van die Vyeboom in Genesis toe Adam en Eva die blare daarvan gebruik het om hulle naaktheid te bedek. (Genesis 3:7)

Van daar af word daar gereeld na die Vyeboom verwys en word die Vyeboom gebruik as ‘n maatstaf van vooruitgang en sekuriteit. Vir iemand om onder sy eie vyeboom te sit was geag die toppunt van vooruitgang en vrede. Vyebome groei natuurlik nie oornag nie; dit kos jare lange toewyding! Dis waarom dit as testament vir ‘n goeie tuinier dien as jou boom so groot word dat jy later onder dit kan sit. Vir jare was die volk van Israel uit hulle eie land verban en het hulle in vreemde lande gewoon as straf. Dis waarom om onder jou eie vyeboom te sit gesien word as ‘n seën en ‘n vorm van sekuriteit.

Die vyeboom word ook gebruik as ‘n metafoor vir die land van Israel, fisies asook geestelik. Ons lees daarvan in Hosea 9:10 en ook in 1 Konings 4:25. In die Nuwe Testament gebruik Jesus die Vyeboom as simbool van onvrugbaarheid in Markus 11:12-14 en dan weer in Markus 11:20-22. Later gebruik Jesus die Vyeboom as simboliek van die laaste dae in Mattheus 24:32. In Openbaring 6:13 word daar weer na die Vyeboom verwys tydens die sesde seël oordeel oor hierdie wêreld.

Nou dat ons meer weet van die Vyeboom in die Bybelse tyd, wil ek graag stilstaan by die waarskuwing wat die HERE aan ons gegee het rakende die end tyd in Mattheus 24:32. Ek weet dat baie van julle nie vyebome het nie of nooit gehad het nie. Ek was so gelukkig om een in ons tuin te hê as kind, daarom verstaan ek wat die HERE bedoel toe Hy gesê het: “Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.”

‘n Vyeboom is ‘n bladwisselende boom wat sy blare afgooi in die Herfs en in die Lente groei dit weer nuwe blare. In die winter is die boom kaal en lyk dit baie lelik sonder sy blare! Sy takke wat gewoonlik sag en buigsaam is in die Lente en die Somer, is dan so hard dat jy dit maklik met jou hand kan afbreek. As die lente kom, dan word hierdie harde takke eers sag en buigsaam. Dan begin die boom uitbot en vorm dit nuwe blare en daarna kom die vrugte.

Met dit ingedagte kan ons duidelik sien hoe ver ons al gevorder het in terme van die laaste van dae. Die Bybel sê dat wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet ons dat die somer naby is. In terme van hierdie gelykenis is ons is al verby hierdie punt! Die boom se takke het al jare gelede sag geword en die blare is ook al lank gelede gevorm. Die vyeboom dra al vrug al wat baie vinnig besig is om ryp te word! Om daarom te sê dat die tyd naby is vir die wegraping om plaas te vind, sal ‘n oorbeklemtoning van epidermiese proporsies wees! Die tekens is almal reeds lank daar. Dis net God se genade wat alles nog aanmekaar hou. Hoe lank dit gaan vat kan nie ek of enige iemand anders vir julle sê nie. Dit kan nog die jaar wees of dit kan volgende jaar waas, maar die punt is dat hierdie die laaste gedeelte van die wedloop is. Ons tyd is amper-amper om!

Nou is die tyd om te sorg dat jy gereed is. Moenie jou gebedslewe afskeep nie en waarsku die mense wat gaan kom! Onthou, hulle verwerp nie vir jou as hulle nie met jou saamstem nie; hulle verwerp die HERE! Moet dit dus nie persoonlik opvat as jy verwerp word nie.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 2 820 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .