Skep Hoop

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het nog altyd van Psalm Een gehou; daar is net iets in die psalm wat ‘n mens laat hoop skep vir die toekoms.

Psalm 1, ‘n Psalm van David  [1]  Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; [2]  maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. [3]  En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. [4]  So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. [5]  Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. [6]  Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.”

Hierdie psalm weerspieël baie van ons se lewens in die HERE en dit beskryf dat as ons as lote in Jesus die wynstok bly ons weë voorspoedig sal wees. Let op dat ek nie sê oorvloed nie, maar voorspoedig.

Julle sien, baie mense dink dat as hulle Kinders van God is, dan moet hulle by definisie skatryk, bekend en voorspoedig wees. Hierdie is aardse beginsels en nie God se beginsels nie, want nêrens in die Bybel word rykdom en bekendheid aan ons belowe nie. Al wat aan ons belowe word is voorspoed en dat daar ‘n beloning wag vir die wat uithou tot die einde toe.

Daarom, Kind van God, vermy die raad van die goddelose, die weg van die sondaars en die kring van die spotters. Daardie is nie die weg van die Kind van die HERE nie. Begeer ook nie wat hierdie mense het nie, want dit wat hulle nou besit is net tydelik en dit sal van hulle weggeneem word; ook dit wat hulle nie besit nie.

Ek gaan vir julle nog ‘n gedeelte bring uit Matteus 5:3-12 [3]  Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. [4]  Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. [5]  Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. [6]  Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. [7]  Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. [8]  Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. [9]  Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. [10]  Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. [11]  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. [12]  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”

Verheug julle in hierdie woorde wat die woorde is waar! Skep moed, liewe Kind van God, want die lang wag is amper om. Ons verduur miskien nou ongerief en pyn net soos ‘n vrou wat op die punt staan om te baar, maar as die baba eers gebore is, dan sal al die pyn en ongemak baie gou vergeet wees!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 209 times, 1 visits today)
Tagged , , .