Wees lief vir mekaar

Soms verstom Jesus my met Sy onuitbluslike geduld met ons en hoe Hy ons by die hand vat en leer hoe om ons lewens te lewe.

Hy meng nooit direk in nie, maar Hy is daardie stil stemmetjie in jou agterkop wat sê “doen so, my kind en nie so nie.” Daardie stil leiding soos wat ‘n Vader ‘n kind sal leer hoe om op te tree. Dankie Jesus!

My Bybel het oopgeslaan by Romeine 13:8-14 en ek wil hê dat julle dit saam met my moet lees:

[8]  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. [9]  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. [10]  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. [11]  En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. [12]  Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. [13]  Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. [14]  Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”

Wat meer kan enige iemand sê? Dis soos ek al baie in my vorige boodskappe gesê het; naasteliefde is die sleutel tot baie dinge! Mense staar hulle blind teen die Tien Gebooie, maar hulle vergeet die naasteliefde… Tog se Paulus hier dat as jy naasteliefde toepas, dan sal jy outomaties die Tien Gebooie nakom, want iemand wat sy naaste liefhet soos homself, sal nie moor, roof, steel of egbreuk pleeg nie. Naasteliefde is soos Paulus sê die vervulling van die hele wet!

Naasteliefde bedek baie sonde en ek kan julle verseker dat baie in die wegraping geneem gaan word net omdat hulle hulle naaste liefgehad het soos hulleself. As jy wil verseker wees dat jy in die wegraping geneem gaan word, dan weet jy nou wat om te doen. Is Jesus nie amazing nie?

Baie mense dink dat naasteliefde beteken dat jy geen voorkeure mag hê nie en dis nie waar nie. Jy mag voorkeure hê en jy mag sê dat daar dinge is waarvan jy nie hou nie. Ek gaan vir julle ‘n voorbeeld gee: ek het geen probleem met enige iemand wat van ‘n ander etniese groep as ek is nie. Ek hou nie van dit wat hulle doen nie, maar as mens het ek geen probleem met hulle nie. Dieselfde geld vir gays en lesbiërs; ek stem nie met hulle leefstyl saam nie, maar as mense het ek geen probleem met hulle nie.

Pas egter op dat jy nie jou voorkeure gebruik as ‘n verskoning nie. Jy loop langs die pad en jy sien iemand wat sit en die enigste paar sente wat hy het tel om ‘n brood te kan koop. Jy het die geld en jy kan daardie persoon help, maar jy doen dit nie omdat jy nie van die persoon se kleredrag hou nie… Dis dan wanneer jou voorkeure in die pad staan van jou naasteliefde en dit mag nie gebeur nie.

Nou weet julle wat om te doen, so doen julle ook so, want die tyd is naby.

Mag die HERE hierdie boodskappe in julle harte seën!

(Visited 170 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .