Gediskwalifiseer vir die Wegraping

Glo jy in God of gehoorsaam jy God; dis die groot vraag wat ons onsself elke dag moet vra, want ons tyd is baie min.

Ek het nou onlangs ‘n prentjie gesien van ‘n groot klomp mense op lekker groot ‘n breë pad loop. Onder aan hulle voete is geskryf: “Ons glo in God.” Langs die kant van hierdie groot breë pad is ‘n klein paadjie wat afdraai teen ‘n steil helling op met drie mense op. Onder aan hulle voete staan geskryf: “Ons gehoorsaam God.”

Sien julle die verskil? Al die Christene in die wêreld vandag, glo in God, maar hoeveel van hulle gehoorsaam God? Ek skryf al vir jare hieroor en dit is dat ons Jesus deel van ons lewens moet maak; Hom eerste stel in alles en ons sondige begeertes moet kruisig. Laasgenoemde is geensins maklik nie, want ek struikel daagliks met my eie begeertes net soos baie van julle. Ek is nie perfek nie, maar saam met Jesus kan ek perfek berouvol wees! AMEN! Ek kan vergifnis vra en weer probeer! Prys Sy Naam!

Om te glo in God is wonderlik, maar om Hom te gehoorsaam; dis wat die verskil maak. Om Jesus te leer ken, Hom deel van jou lewe te maak, Sy Woord in jou lewe uit te leef en so elke dag meer soos Jesus te lyk in ons doen en late, dis waarna ons moet strewe! Prys die Naam van Jesus! Die wêreld en sy begeertes moet dood wees vir ons!

Paulus skryf in Efesiërs 5:5 “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.” Hierdie gedeelte is direk van toepassing op ons as Kinders van God! Onder geen omstandighede mag ons die wêreld deel van ons lewens maak of selfs gelykvormig daaraan wees nie! Absoluut geen kompromieë met die wêreld nie, want ons is Kinders van die Een Lewende God! AMEN!

Ek is seker dat almal van julle die Gelykenis van die Tien Maagde ken soos dit opgeteken is in Matteus 25:1-13 en daarom gaan ek dit nie weer hier aanhaal nie. Let op dat al tien meisies Kinders van die HERE was, maar dat net vyf van hulle gereed was. Net vyf van hulle was vol van die olie van die Heilige Gees en daarom kon hulle deur die lang nagwaak hou terwyl die ander vyf dit nie kon doen nie.

Ek gaan dit nou weer herhaal: satan steel jou olie as jy jou besighou met wêreldse begeertes en hy doen dit terwyl jy jouself geniet sonder dat jy enige iets agterkom! Die dag as daardie basuin blaas, dan gaan jy skielik agterkom dat jy nie genoeg olie het nie…

Ja, mense gaan sekerlik sê dat ek besig is met bangmaak stories, maar dink so daaraan: wil jy eerder nou bang gemaak word terwyl jy ‘n verskil daaraan kan maak of verkies jy om eerder deur die verdrukking te gaan en dan tot in jou siel bang te wees?

As Kinders van God kan ons onsself nie besighou met pornografie, waarsêery, dronkenskap, gierigheid en nog baie ander soortgelyke dinge nie. Jy kan nie gered wees en dan aanhou sondig nie! In 1Johannes 1:6 staan: ”As ons sê dat ons met Hom (Jesus) gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” en in vers 8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”

Liewe leser, lees hierdie en weet dat dit die waarheid is! As jy gered is deur die Bloed van die Lam en jy volg nie ‘n heilige leefstyl nie, sal jy jouself diskwalifiseer vir die wegraping en dis ‘n feit!

Jesus sê verder in Mattheus 6:24 “Niemand kan twee here dien nie. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” Jy kan nie die begeertes van die wêreld geniet en terselfdertyd God ook dien nie. Dis of die een of die nader een en jy gaan MOET kies! Onthou dat daar net een wegraping gaan wees! As jy dit mis, dan gaan daar geen tweede kans wees om reg te maak nie. Luister as jy ore het om te hoor, wat die engel met die basuin staan gereed om daardie basuin te blaas!

In 2 Petrus 3:10 staan “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag.” Maar ek wil byvoeg; soos ‘n dief in die nag vir die wat nie voorbereid is nie. Vir ons wat gereed is saam met Jesus gaan daardie dag nie kom as ‘n totale verassing nie, want ons gaan weet as die tyd naby is.

Liewe Kind van God, ‘n Heilige Leefstyl is nie so moeilik om te volg nie, want die dag toe jy Jesus as Verlosser aangeneem het, het God jou in jou gees heilig gemaak. Dit is dáár waar Jesus deur die Heilige Gees in ons woon, want Hy kan net in ‘n plek woon wat heilig is. Noudat jou gees geheilig is, het jy die vermoë om heilig te lewe ook. Wanneer jy kies om jou gees eerder as jou vlees te volg, is ‘n Heilige Lewe die eindresultaat.

Dit is ‘n daaglikse keuse wat jy moet maak om jou gees te volg. Jou vlees gaan bly kop uitsteek en jou probeer oortuig om eerder sý paadjie te volg. Dit is dan ook waarom daar so gereeld in die Nuwe Testament verse opduik wat ons maan om heilig te lewe. Hierdie heiligmakings proses is dus ‘n lewenslange proses. Maar met die hulp van die Heilige Gees, kan ons kies om elke dag te lewe soos God van ons vra.

Ons is Kinders van die Lig en nie Kinders van die Duisternis nie. Volg die heilige leefstyl en sorg so dat jy gereed is as daardie basuin binnekort vir ons gaan blaas! Prys die Naam van Jesus!

Kom ons Bid saam:

Vader Jesus, ek wil graag vir elke persoon wat hierdie boodskap lees bid. So baie is nog nie gereed nie en ek weet dat U die wegraping terughou omdat so baie nog nie op die regte plek is nie, maar ek weet ook dat U nie vir altyd gaan wag nie. Daarom bid ek, my Vader, dat U hierdie boodskap sal seën sodat die wat dit lees sal oplet en sal regmaak. Seën elke poging wat aangewend word om Heilig te Lewe sodat ons gereed kan wees as die tyd aanbreek. In Jesus Naam. AMEN!

(Visited 355 times, 1 visits today)
Tagged , , , .

One Comment

  1. Amen! Dit is ‘n absolute Waarheid van die HeiligeGees! Baie dankie vir die bemoediging en, bevestiging daarvan deur die Woord.

    Weet u, nog iets is kwaadpraat en skinder, onvergewensgesindheid en bitterheid – wat Jesus Christus vermaan ons uitdruklik dat diegene wat nie kan vergewe nie, nie vergewe sal word nie. En dat Hy slegs die Ken – wat die Wil van Sy Vader – ons Hemelse Vader doen.

    Baie seëngroete aan u en elkeen van ons broers en susters in Jesus Christus. U bly in my gebede…

Comments are closed.